Met die prys van ’n los sigaret wat nou duurder is as ’n liter petrol, het twee wetstoepassers na bewering besluit om buitelandse winkeleienaars vir hul eie gewin te teiken.
Sigarette wat normaalweg vir R10 ’n pakkie verkoop is, word nou tydens die verbod op die verkoop van sigarette teen byna R200 ’n pakkie verkoop.
Volgens Ali Hussain, eienaar van ’n spazawinkel in Uitbreiding 12, het twee “skurke in uniform” onlangs sy winkel besoek en amok gemaak. Dié Bangladesjer vertel die twee beamptes het Donderdag 14 Mei byna die winkel afgebreek om toegang te verkry en dat hulle ’n verseëlde boks sigarette in sy kamer gekry het en ook ’n groot bedrag kontant gegaps het.
“Ons weet wat is die wet en daarom het ek die sigarette verseël en in my kamer gebêre,” vertel Hussain. Hy vertel die twee verdagtes is vort met die boks sigarette en kontant.
“Ek het gevra waarom vat hulle die sigarette en waarom word ek nie ’n boete opgelê nie – soos wat die wet voorskryf ’n polisielid of wetstoepasser moet doen indien hulle mense betrap wat handel in die verkoop van sigarette dryf – maar dié twee het net geloop asof hulle kom inkopies doen het.
Hussain vertel hy het onraad vermoed en het onmiddellik die polisie gebel wat hom gesê het die manne het onwettig opgetree.
Die spazawinkeleienaar het ’n saak teen die twee wetstoepassers aanhangig gemaak nadat daar gevind is dat geen sigarette by die polisiekantoor ingehandig is nie. Die boks, wat 500 pakkies sigarette bevat met ’n swartmarkprys van byna R100 000, is nie onmiddellik ingehandig nie.
Weskus Nuus het verneem die twee wetstoepassers het twee dae ná die voorval en nadat Hussain ’n saak aanhangig gemaak het, 100 pakkies sigarette by die polisiekantoor ingedien.
Volgens Hussain is ander spazawinkeleienaars ook geteiken.
Kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, het bevestig klagtes van diefstal word teen die twee wetstoepassingsbeamptes ondersoek.





