Die polisie soek steeds inligting nadat ’n pasgebore baba Maandag 23 Augustus in die bosse naby die Robin Hill Spesiale Skool gevind is.
Volgens kapt Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, is die kleintjie steeds in die hospitaal en nog geen inligting oor die ouers is ontvang nie.
Munro sê die departement van maatskaplike ontwikkeling werk daaraan om die baba in pleegsorg te plaas. Sy het inwoners aangemoedig om hulle by die departement te registreer indien iemand dalk ’n kind vir pleegsorg wil inneem.
Inwoners van die gebied het Maandag 23 Augustus op die pasgebore baba in die bosse afgekom.
Volgens omstanders, wat nie hul identifiseer wou word nie, het hulle ’n gehuil uit die bosse gehoor en gaan kyk toe hulle op die pasgebore baba, wat in vuil komberse toegedraai was, afgekom en alarm gemaak.
Volgens Munro was die baba reeds blou in die gesig en is inderhaas na die hospitaal geneem waar sy gestabiliseer is. Volgens ’n betroubare bron is die baba gewis daar agtergelaat omdat geen bloed op die toneel gevind is nie.
Sers. Wilmot Isaacs van die Milnerton FCS het gevra inwoners met inligting moet vorendag kom. Sers. Isaacs kan by 071 604 8365 gekontak word. Inligting sal streng vertroulik hanteer word.




