Reygersdal Primêr se skoolhoof en bekende sportadministrateur, Danny Pietersen, het ná 35 jaar in die onderwys die tuig neergelê. Foto: Murphy Roberts


Danny Pietersen, bekende sportadministrateur en hoof van Reygersdal Primêr, het ná 35 jaar diens in die onderwys die tuig neergelê.

Die Paarliet het reeds op 16-jarige ouderdom gewys hy is ’n gebore leier toe hy by die bevrydingstryd betrokke geraak het. Hy het sy graad in onderwys in 1985 verwerf en vertel dat sy eerste pos by Parkview Primêr in 1986 was, maar is ná ’n maand in die beroep geskors weens sy betrokkenheid by die bevrydingstryd.

“Oorlede Dullah Omar het destyds my hofsaak teen die regering hanteer en ná ’n jaar skik ons buite die hof en ek is terug in my beroep,” vertel hy.

Pietersen, wat ook in sportadminis­trasie uitblink, het die pos as voorsitter van Atlantis Primêre Skole-sportunie (APSSU) vir 17 jaar beklee. Pietersen vertel hy het in 1997 by Reygersdal beland en is nege jaar later as die hoof aangestel.

“Dit was nooit maklik nie omdat die dorp met so baie sosio-ekonomiese probleme geworstel het. Die gemeenskap het egter nooit toegelaat dat dit hulle onderkry nie en ons het wonderlik saamgewerk om die struikelblokke te oorkom,” onthou Pietersen.

Ná 24 jaar by die skool is dit tyd vir nuwe bloed meen Pietersen, maar sy liefde vir die beroep en sport sal altyd daar wees.

Van die hoogtepunte by die skool was die bou van ’n rugbyveld, veeldoelige sentrum, die skaatsbaan en die bou van die skool se eie biblioteek.

“Atlantis het oor die jare baie sporttalent opgelewer en ek kan met trots vertel dat ek ’n rol in baie se sukses gespeel het,” sê Pietersen. Van sy hoogtepunte as sportadminis­trateur is onder meer, sy pos as kassier van die Boland United Schools Sports Association of South Africa (Ussasa), spanbestuurder van die Boland-Cravenweek se o.13-span met Schalk Burger as die kaptein en was vir ses jaar voorsitter van die sportbeheerraad in die dorp, in dié tyd is die atletiekbaan by Wesfleurpark-sportterrein gebou.

Pietersen was ook die voorsitter van Boland-rugby vir laerskole en was nou betrokke by die Blou Bulle, waar hy met voormalige Springbokbreier, Heyneke Meyer, gewerk het om kranige atlete te identifiseer en ’n geleentheid te gee hom deur middel van ’n sportbeurs by skole in Pretoria, Johannesburg en Kimberley te gaan studeer en ook beter afrigting ontvang.

Bekendes wat deel van dié groep uitgemaak het, is Duncan Matthews (Blou Bulle en Lions), Ambrose Papier (Springbok en Blou Bulle) asook Hyron Andrews wat vir die Sharks uitdraf en talle wat op junior vlak vir die Blou Bulle, Leeus en Griekwas gespeel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article