Danny Pietersen en raadslede van subraad 1 het tuingereedskap aan vier plaaslike skole geskenk. Foto: Murphy Roberts


Leerders sal eersdaags hul eie groente vir hul skole se kombuise begin kweek.

“Dit was nie ’n moeilike besluit om skole te identifiseer wat kan baat vind by die skenking van tuingereedskap nie,” meen Danny Pietersen, president van Atlantis Rotariërs.

Pietersen en lede van subraad 1 het Woensdag (20 April) gereedskap aan vier skole uit die twee plaaslike wyke oorhandig. Nicky Rheeder, voorsitter van subraad 1, het Pietersen bedank vir sy onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.

Sy verduidelik dit is maklik om te sien daar is goeie leierskap by skole wat haar opgewonde maak oor die toekoms van Atlantis.

“Tuinmaak leer kinders om vir mekaar te gee. Dit leer hulle ook dissipline, maar die belangrikste van alles leer dit hulle van ’n vroeër ouderdom af om selfonderhoudend te wees,” het Rheerder by die oorhandiging gesê.

Pietersen sê verskeie plaaslike skole het reeds bestaande groentetuine. Hy sê dié skole ontvang geld van die departement van onderwys om selfonderhoudend te wees en daarom het die skenkers besluit om die gereedskap aan skole te skenk waar dit die grootste verskil kan maak.

Hermes Primêr, Avondale Primêr, Protea Park Primêr en Parkview Primêr het die raadslede en Rotary Atlantis vir die skenkings bedank.

Hulle sê die gereedskap kan net tot voordeel van die gemeenskap aangewend word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article