Die gees van Oom T leef voort. Volgens die familie van wyle Abdul Tajoodien is dit wat oom T wou hê hulle moet doen. Die familie het onlangs die winkel met Kersliggies versier en ongeveer 150 kinders tydens die geleentheid met lekkernye bederf.
“Ons het nie net die kinders bederf nie, maar ook die volwassenes,” het die familie vertel. Oom T, wat in die volksmond as die “vader van die gemeenskappe van Mamre, Pella en Atlantis” bekend was, was ook alombekend vir sy groothartigheid teenoor die gemeenskappe en hy het ook gemeenskappe van buite ondersteun. Oom T is in Augustus 2022 skielik oorlede en sy dood het ‘n groot leemte gelaat. Hy was ook die koerant se grootste kritikus, maar ook ‘n goeie vriend.
“Ons as ‘n familie het besluit om sy tradisies te laat herleef – veral omdat Oom T op Kersdag verjaar het,” het hulle gesê. “Die uitdrukking op die kinders se gesiggies het baie herinneringe teruggebring,” het die familie trots vertel.



