Die nasionale koronavirus-bevelsraad oorweeg nog watter bykomende beperkinge vir die komende Paas- en ander godsdienstige vakansies in Suid-Afrika ingestel moet word, sê Khumbudzo Ntshaveni, waarnemende minister in die presidensie.
Ntshaveni het dit Donderdag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê waartydens sy die besluite van Woensdag se kabinetsvergadering bekend gemaak het. Oor spekulasie dat Suid-Afrika oor die Paasvakansie dalk weer na vlak 2 kan skuif, het Ntshaveni gesê die kabinet het dit duidelik gemaak “ ’n plan moet gereed wees”.
Op ’n vraag oor of die ministeriele raadgewende raad se aanbeveling aan die bevelsraad – dat ’n skuif terug na vlak 2 oorweeg moet word om getalle by kerke te beperk en drankverkope oor naweke te verbied – het Ntshaveni gesê die bevelsraad het nog nie ’n besluit geneem nie. “Ons kan nie bespreek wat die aanbeveling van die ministeriele advieskomitee of die nasionale gesamentlike operasies-komitee aan die bevelsraad was nie, en ons kan ook nie die bevelsraad se besluit vooruitloop nie.
“As die tyd reg is en die besluite geneem is, weet ons almal as Suid-Afrikaners dat die president ’n ‘familie-vergadering’ sal saamroep om daardie besluite bekend te maak.” – Netwerk24





