Dr. Nomafrench Mbombo, die provinsiale minister van gesondheid, het Donderdag 29 Augustus by ’n geslote vergadering met verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskapskomitee by die Wesfleur-hospitaal vergader oor vereistes wat gestel is.
Volgens ’n betroubare bron het Mbombo egter niks nuuts na die tafel gebring nie en die dorp het steeds nie primêre gesondheidsorg soos gevra nie.
Mbombo het egter in ’n persverklaring ná die geslote vergadering gesê ’n taakspan van 10, bestaande uit verteenwoordigers van die gemeenskapskomitee, haar kantoor en die Stad Kaapstad, is gestig om die probleme te bespreek. Mbombo het ook gevra benoemings moet ingedien word vir ’n nuwe bestuur vir die hospitaal nadat sy die bestaande bestuur ontbind het. Oor haar korttermynplanne gepraat het sy gesê gesondheidswerkers moet bedleende pasiënte tuis besoek, kroniese medikasie moet by pasiënte afgelewer word en bykomende dokters moet veral naweke en vakansiedae ontplooi word om die druk te verlig.
Langtermynoplossings is dat die vloei van pasiënte moet verbeter deur die bestaande infrastruktuur te vaartbelyn en die Wesfleur-hospitaal na ’n hospitaal met 150 beddens te herbou.
Mbombo het egter beklemtoon die taakspan is nie net daar om te help met die verbetering van dienste nie, maar ook om belangrike inligting met die gemeenskap te deel.
Volgens Dean Goliath, ’n woordvoerder van die gemeenskapskomitee, weet hulle nie van die taakspan nie aangesien hulle nooit oor die samestelling van die span in kennis gestel is nie. Volgens Goliath het die komitee ook geen seggenskap in die kort-, medium en langtermynplanne van die LUR gehad nie, behalwe die memorandum wat hulle oorhandig het.
Die groep se eise sluit in:. Die minister se departement moet alle klinieke in die gebied by die Stad Kaapstad oorneem om dienslewering te verbeter; . Die hospitaal se raad moet bedank en vervang word;. Atlantis moet dringend ’n nuwe hospitaal kry om aan die groeiende gemeenskap se vereistes te voldoen. . Gesprekke rakende die nuwe hospitaal moet dadelik begin.. Ambulansdienste moet dringend bekyk word aangesien inwoners ure moet wag op ’n ambulans wat lewens kon red.. Die Pella-kliniek, wat slegs een dag oop is, moet daagliks oopgestel word.. Die Atlantis-hospitaal moet dringend nog personeel kry om dienslewering te verbeter.. Klinieke se dienste moet nie beperk word nie.. Kontrakwerkers moet onmiddellik uitgeskakel word en permanente lede moet aangestel word.





