Young Hearts het Saterdag op die grafkelder in een van sy swakste vertonings die knie gebuig teen St. Helenabaai, wat die plaaslike toeskouers stil gespeel het.
Die span van Ruben Abels kon voor die wedstryd wel nie meer vir die uitspele kwalifiseer nie, maar hul eer was op die spel.
St. Helena, wat die wedstryd moes wen, het met sy oorwinning van 44-12 verseker dat hy dalk nog die streekwenner kan word indien die verdedigende Boland-kampioen hierdie naweek op die grafkelder vasval.
St. Helena, wat rustyd 13-7 voor was, het egter nooit opgegee nie en die tweede helfte het sprankelrugby deur beide spanne opgelewer.
Die tuisspan hoef egter nie ver te gaan soek oor wat op die veld skeefgeloop het nie.
Die span met sy opwindende agterlyn het al die kanse geskep, maar rotsvaste verdediging deur die besoekers en hul vermoë om die tuisspan se aanvallende spel om te keer, het elke keer in punte vir die besoekers geëindig.
Die besoekers uit die Agterbaai het in die tweede helfte vier verdoelde drieë gedruk en ’n strafskop behaal teenoor die tuisspan se een onverdoelde drie. . Saldanha moes op sy tuisveld diep delf vir sy oorwinning oor die Burg Boys, wat voor die wedstryd ook nog vir die uitspeelrondes kon kwalifiseer, maar is in die laaste minute met die kous oor die kop deur die tuisspan huis toe gestuur.
Saldanha, wat met karakter en veggees gewys het hoekom hy die kampioen is, het die stryd 17-14 gewen.
Vredenburg se Burg Boys sal die wedstryd seker oor en oor wil kyk om te sien wat het verkeerd gegaan vir hulle.
Young Hearts speel Saterdag in sy laaste wedstryd teen Saldanha en ’n oorwinning sal Ruben Abels se troepe weer stert in die lug plaas en sal ook goed vir die spelers se moraal wees en veral hul lojale ondersteuners.
Mamre het op sy tuisveld ’n goeie oorwinning van 25-15 oor Hopefield behaal en reis Saterdag na Vredenburg.




