Sy het in haar wildste drome nooit gedroom dat sy eendag aan ’n skoonheidskompetisie sal deelneem nie.
Tatum-Leigh Williams, oorspronklik van Kuilsrivier, vertel haar lewe het ’n nuwe wending geneem toe sy kort voordat die covid-pandemie na Atlantis verhuis het. Dié getroude ma van twee sê hier het sy besef sy wil meer met mense werk en ’n verskil in inwoners se lewe maak.
Dié Mev. Westelike Provinsie-skoonheidskoningin sê alles het begin toe sy die omstandighede van die gemeenskap aanskou het en gereeld gelees het wat baie jong meisies se uitdagings is. Sy het toe besluit om die sanitere doekie-projek van stapel te stuur.
“Ek het besef om geld in te samel, kan ’n verskil in baie se lewe maak,” meen die skoonheid. “Ek het die eerste keer in 2020 aan die Miss AMP (Atlantis, Mamre, Pella-kompetisie) deelgeneem en tot my verbasing is ek as eerste prinses gekroon. Daarna kon niks my keer nie.
“Ek het verlede jaar vir die ma-afdeling van die Mr/Mev./Mej. Westelike Provinsie-kompetisie ingeskryf en soos ’n ervare model met die titel weggestap.”
Sy sê die titel het baie vir haar selfvertroue beteken. Dit was ook die katalisator vir haar besluit om ’n ambassadeur vir liefdadigheid te word met die fokus op jong meisies.
Williams vertel voorts sy het reeds verskeie sanitêre doekies vir plaaslike hoërskole ingesamel en aan leerders oorhandig. “Dit is moeilik om alles uit jou eie sak te doen, en ek vra organisasies en sakeondernemings wat belangstel om met skenkings te help, om my te kontak.”
Williams beplan om binnekort ’n geldinsameling te hou deur ’n skoonheidskompetisie waar deelnemers sanitêre doekies as inskrywingsfooi gee om haar projek suksesvol te maak.

