Kuberboelies is ’n groeiende verskynsel onder internetgebruikers, maar veral skoolleerders, aangesien die meeste van hulle slimfone het.

Volgens die Verenigde Nasies se kinderfonds (Unicef), word kuberboeliery beskryf as “afknouery met die gebruik van digitale platforms soos sosiale media”.

Unicef sê dit is “herhalende gedrag wat daarop gemik is om diegene wat geteiken word bang, kwaad, of skaam te maak”.

Bykomende boeliegedrag (aanlyn) sluit in die verspreiding van gerugte, dreigemente of seksuele opmerkings asook die bekendmaking van persoonlike inligting.

Hierdie soort boeliegedrag kan plaasvind op WhatsApp, Facebook, Instagram en TikTok sowel as ander sosialemediaplatforms soos aanlyn rekenaarspeletjies.

Leerders en hul ouers in Suid-Afrika is ook nie immuun teen hierdie gedrag nie en word aangemoedig om na tekens hiervan op die uitkyk te wees.

Hoe weet ek my kind is ’n slagoffer van kuberboeliery? Hy of sy is senuweeagtig of bang om skool toe gaan; senuweeagtig en rusteloos wanneer sosiale media gebruik word; huiwerig om inligting oor hul aanlyn aktiwiteite bekend te maak; onverklaarbare gewigsverlies of gewigstoename, hoofpyn, maagpyn, of verlore eetlus; slapeloosheid in die aande, en moegheid gedurende die dag; geen belangstelling vir stokperdjies wat voorheen geesdriftig beoefen is nie; ’n onttrekking van familie en vriende; en in sommige gevalle selfmoordgedagtes.

Voordat ’n kind immers ’n slagoffer van kuberboeliery word, is verskeie maniere beskikbaar om dit te voorkom.

Een daarvan is om seker te maak dat ’n kind weet volwassenes is beskikbaar op wie se knoppie gedruk kan word en wat in hul vertroue geneem kan word.

’n Kind is dan minder geneig om in stilte te ly.

Nog ’n voorkomingsmaatreël sluit in om kinders op te voed oor wat kuberafknouery is en om die boodskap oor te dra dat iets daaraan gedoen kan word.

Dit is ook van belang om die skool in te lig waar die kuberboelie sowel as die slagoffer skoolgaan en om ’n klagte by die polisie aan te meld indien enige wetgewing oortree word, soos byvoorbeeld wanneer fisieke dreigemente geuiter word.

Verskeie ander voorkomingsmaatreëls kan ook ingestel word, soos byvoorbeeld om elektroniese toestelle tot op ’n sekere ouderdom te beheer en gereeld na te gaan.

Indien professionele hulp benodig word deur slagoffers van kuberboelies, of volwassenes wat bekommerd is oor ’n kind se welstand, kan mense Childline by 116 vir gratis bystand kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article