Kenny Stadler, die veteraan-slot en kaptein van Mamre, het Saterdag van voor gelei. Foto: Murphy Roberts


Hy is soos goeie rooiwyn – hoe ouer, hoe beter.

Kenny Stadler, veteraan-slot en kaptein van Mamre, het Saterdag in Moorreesburg sekerlik een van sy beste wedstryde in ’n ruk gespeel en soos ’n ware kryger van voor gelei. Stadler het die tuisspan met sy goeie drentel-lopies en skitterende dryfwerk behoorlik opgekeil. Die kaptein is ook beloon met ’n skitter-drie in Mamre se 35-12-oorwinning oor Samoa van Moorreesburg.

Die groen truie is tans stert in die lug met ’n rits goeie oorwinnings oor van die voorste spanne in Boland.

Plaaslike spanne speel steeds opwarmingswedstryde nadat Boland kort voordat ligaverpligtinge sou begin, besluit het om eerder alle ligawedstryde uit te stel om spelers kans te gee om ingeënt te word.

Moorreesburg het goed begin en eerste bloed getrek. Die tuisspan se groter voorspelers het die besoekers in die eerste helfte se vaste skrums laat les opsê. Mamre se dissipline was egter rede tot kommer, maar selfs met twee geelkaarte kon Moorreesburg dit nie tot sy voordeel gebruik nie.

Mamre het die tuisspan van Moorreesburg egter met sy ligter voorspelers en vinnige agterlyn gereeld laat omdraai, en dit het gewis sy tol op die tuisspan geëis. Mamre het egter sy kanse ten spyte van minder balbesit en gebiedsvoordeel, beter benut en het rustyd gaan water drink met ’n voorsprong van 17-12. Moorreesburg was net ’n skadu van homself in die tweede helfte en sy voorspelers kon nie meer hul merk in die vaste skrums maak nie.

Die besoekers het met slegs sewe voorspelers die tuisspan se skrum teruggedruk. Die tuisspan moes verdedig, maar het die paar keer dat hy binne bereik van Mamre se doellyn was, telkens besit afgestaan. Mamre se agterlyn het die tuisspan met hul spoed gekasty en die Moorreesburgers kon nie ’n enkele punt in die tweede helfte aanteken nie, terwyl Mamre 18 punte by sy telling gevoeg het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article