Bradwin Prins op pad na een van sy ses drieë teen Koringberg Saterdag in Mamre. Foto: Pat Oppelt


Koringberg was Saterdag soos ’n “Shoprite Trolley” in die vaste skrums deur Mamre rondgestoot in die tuisspan se 78-6 oorwinning in Mamre.

Mamre wat die wedstryd ietwat wankelrig begin het, het egter ten spyte van die telling steeds nie op al sy silinders gevuur nie.

Die groen truie van Kenny Stadler het die besoekers toegelaat om van tyd tot tyd gebiedsvoordeel te geniet deur swak dissipline en hanteerfoute. Koringberg het gou 3-0 voorgeloop en die tuisspan laat swoeg vir punte.

Die tuisspan, wat reeds 31-6 voorgeloop het teen rustyd, het egter by tye soos afkop-hoenders op die veld rondgehardloop en net goeie verdediging en die besoekers se gebrek aan afronding het Koringberg verhinder om die tuisspan se doellyn oor te steek. Mamre, wat die tweede helfte ook stadig begin het, is goed deur die besoekers vir die eerste 20 minute onder beheer gehou voordat die damwal gebreek het.

Met nog sewe drieë het die tuisspan na ’n hoër rat oorgeskakel en Branwin Prince het weereens gewys waarom hy tans die voorste driedrukker in die Boland is. Die prins van vleuels in Boland het die helfte van die tuisspan se 12 drieë gedruk.

Die oorwinning het Stadler se span tans met die beste punteverskil in die derde plek gelaat. Met enigiets wat nog kan gebeur, sal Stadler en sy troepe nou meer gefokus moet wees indien hulle ’n plek in die uitspeelrondes wil verseker.

Young Hearts het ook ’n goeie weg-oorwinning behaal om hul kanse vir die top-2 uitspeelspanne lewendig te hou. Ruben Abels en sy troepe het Piketberg met 27-24 geklop en is tans in die vyfde plek met ’n wedstryd minder as Velddrif in die vierde plek. Mamre sal beslis Saterdag op sy beste moet wees as hulle na Langebaan reis terwyl Young Hearts die sukkelende Burg Boys op die grafkelder sal onthaal.

Volledige uitslae in die Weskus Streek: Saldanha 29-19 Langebaan, St. Helena 18-19 Velddrif, Mamre 78-6 Koringberg, Vredenburg 37-40 Paternoster, Piketberg 24-27 Young Hearts.. Swartland: Moorreesburg 44-37 Abbotsdale, Darling 66-39 Goodhopes, Porterville 33-15 Villagers Wittewater, Riebeeck United 18-14 Saron en Wesbank 25-6 Never Despairs

Die naweek se program is:

Velddrif t. Saldanha, Paternoster t. St Helena, Young Hearts t. Vredenburg, Koringberg t. Hopefield en Langebaan t. Mamre.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article