Dit is Augustusmaand . . . die maand waarin ons die rol wat ons vroue in ons lewens speel, vier.
Ek hoop van harte dat ons vroue Vrouedag op Saterdag 9 Augustus as spesiaal ervaar het.
Ek het vir my ma gevra of daar enige lekkerdoengoed vir al die bejaarde vroue in die Weskus gehou is. Die antwoord was positief. Daar was ‘n groot makietie in Velddrif en almal in die Weskus was welkom.
Ouma Sarie was glo ‘n groot trekpleister by die geleentheid. Eers laat sy daai oumas in hulle sewentigs en tagtigs dans asof rumatiek en hoë bloeddruk nie bestaan nie. Daarna laat sy die einste oumensies skuldig voel omdat hulle kwansuis so kerklik is, maar op daai oomblik jol dat die stof staan.
Dit was vir my goed om te hoor hoe my ma haar gate uit geniet het en dat sy die dag saam met ander spesiale vroue kon vier.
Dis nog heelmaand die maand vir die vrou en ek hoop daar word sommer nog hope geleenthede geskep om vroue te bederf en hulle te laat besef watter waardevolle rol hulle in ons lewens vervul.
Iets aan die wese van ‘n vrou gee ons almal die rustigheid dat alles oraait sal wees, want Mamma sal sorg dat alles oraait is.
Hoe gering of groot die uitdagings ook al is, staan sy altyd gereed met ‘n plan om vir gesin en familie ‘n veilige hawe te skep. Haar liefdevolle aanraking bring heling vir ‘n seer hart of wanneer daar pyne en skete is, sal sy weet wat om te doen om genesing te bring.
Dis met laasgenoemde dat ek eerstehands kan deel hoe ek daardie helende hand en aanraking gemis het toe ek duisende kilometers van my ma ernstig siek geword het.
Hou in gedagte dat ek iemand is wat, solank ek kan onthou, relatiewe goeie gesondheid geniet het. Die naaste wat ek aan siek word gekom het, was met ‘n lastige verkoue. Dié keer was dit anders. ‘n Erge maagaandoening het my met die binnekant van ‘n hospitaal laat kennis maak.
Ek kan slegs een keer onthou toe my ma my as kind vir ‘n operasie na die Tygerberg-hospitaal moes neem. Ek was maar agt jaar oud. En hier skuins ná vyftig bevind ek my in ‘n hospitaal derduisende kilometers van my vaderland af; ‘n hospitaal waar alles en almal anders lyk. So siek soos ‘n hond lê ek in my hospitaalbed, met druppe en pype wat my bakens van hoop op volkome herstel word. Hulle wat my moet help op die pad na herstel kan skaars ‘n woord of twee Engels praat.
Tussen die vreemheid van alles wens ek net vir ‘n vriendelike gesig wat opreg omgee en my die gerusstelling sal gee dat alles oukei sal wees. Toe verskyn sy – ‘n engelvrou wat oogkontak maak met hierdie vreemdeling uit Afrika.
Sy kan nie ‘n woord Engels praat of verstaan nie, maar haar spontane glimlag en grappies in haar taal laat my sommer stukke beter voel waar ek op my hospitaalbed lê. Sy is die toonbeeld van ‘n mamma wat vir haar eie en ander opreg omgee. As swartgalligheid my by tye wou oorval, dan was sy maar die heeltyd daar om my ‘n bietjie op te beur. In gebaretaal sou sy verneem of ek al my vreemde hospitaalkos geeët het, want dit sal my sterk maak. As ek myself by tye wou bejammer, sal sy die een wees wat my met haar vrolike geaardheid kom opbeur en herinner dat ek ‘n bietjie moet opstaan en my lyf en bene ‘n bietjie oefening moet gee.
Dié van julle wat bekend is met die sale en gange van ‘n hospitaal sal verstaan dat dit nie altyd die lekkerste plek is om te wees nie. Dit het ek vir die eerste keer in my lewe aan eie bas ervaar. Oral rondom jou is daar siekes. Almal hoop om so gou as moontlik huiswaarts te keer. In jou toestand van pyn en afhanklikheid van ander vir jou spoedige herstelproses, het jy net daardie een persoon nodig wat jou sal laat glo dat alles oukei sal wees. My engel het haar opwagting gemaak. My engel het nie woorde gehad om my te troos nie.
Wat sy wel in oorvloed gehad het, was haar ruimhartige gees om vir hierdie vreemdeling uit Afrika tuis te laat voel in ‘n omgewing wat volksvreemd was. Die aanraking van haar oë, die kamers tot die siel, het vir my in my uur van nood-
genesing gebring. Haar spontane menswees, vrouwees en ma-wees het vir my heling gebring sonder dat sy daarvan bewus was. Haar daarwees vir my het my laat dink aan die miljoene mammas op Afrika-bodem wat, net soos sy, die juk van pyn en lyding van ander verlig – sonder woorde; slegs deur hul optrede wat spreek van liefde en omgee.
Mammas, julle is ‘n besonderse gawe van Bo. Ons waardeer julle.




