Atlantis-vaardigheidskool het op 15 Desember basiese beginnerspakkette vir 2021 aan agt toppresteerders van onderskeie werkswinkels oorhandig.
Die doel van hierdie inisiatief is om die leerders te help om hulle eie onderneming te begin met die vaardigheid wat hulle in die laaste vier jaar by die skool geleer het.
Volgens die hoof, Cuwin Cupido, was dit ’n geskiedkundige gebeurtenis en ’n eerste vir Atlantis-vaardigheidskool. Cupido meen die goeie prestasie van leerders is só op ’n gepaste wyse vereer. Die leerders het ook die skool se leuse, “Volhard en Groei” ten volle uitgeleef en ’n voorbeeld vir ander gestel, het hy gesê.
“Ons is trots op julle en hoop die kennis wat julle ontvang het, sal nie verlore gaan nie, maar liewer verder uitbrei om ’n sukses van julle loopbane te maak.”
Cupido het ook die leerders se ouers bedank vir die ondersteuning en glo hulle kan trots wees op hul kinders se prestasies.
Ethan Rhooda (sweis), Ethan Solomons (stoffeer), Zoe Mcpherson (haarversorging), Jurinita van Wyk (kleding), Jadon Banda (kunsvlyt), Chadwin Abbot (motorbak en spuitverf), Petronella Konstabel (gasvryheidstudies) en Enastia Scholtz (haarversorging) was baie in hulle skik met die ontvangs van hul beginnerspakkette.
Cupdio het sy dank aan Atlantis Foundries, Nedbank Darling en Sean Staddler uitgespreek “vir die ruim skenkings aan ons leerders wat hulle nou nog meer sal motiveer om hulle eie ondernemings te begin.”
. Weskus Nuus verneem Cupido het sedert dié geleentheid gesterf. Ons deel ons medely met Cupido se familie en vriende.





