Meer as 500 saailinge is Dinsdag 18 April deur Seed2Harvest aan die Atlantis School of Skills se groentetuin geskenk.
Die skenking is moontlik gemaak deur die samewerking van die African Restoration Alliance (ARA) se tak in Atlantis, wat sy eerste skoolprojek in Atlantis met die hulp van Seed2Harvest van stapel gestuur het.
Volgens Donae September, ’n verteenwoordiger van ARA, glo hulle elkeen het die reg op gesonde kos, daarom het hulle bande met Seed2Harvest gesmee om te help “in ons strewe om gemeenskappe van gesonde groentetuine te voorsien”.
“Hierdie groentetuine sal nie net die skool help om gesonde groente vir die voedingskema en aan die kombuis te voorsien nie, maar sal ook die skool volhoubaar hou deur van die groente aan mense in die gemeenskap te verkoop. Ons het die nood in ons gemeenskap gesien – nie genoeg groente is beskikbaar om ’n goeie maaltyd te geniet nie, maar met die samewerking van Seed2Harvest kan ons dit doen.”
Volgens Shaun Cairns, die bemarkingsbestuurder van Seed2Harvest, is die doel om gemeenskappe wat in organiese tuine belangstel, te help en te ondersteun deur saailinge te skenk wat hulle van skenkers ontvang. “Ons streef om gemeenskappe en organisasies met gemeenskapstuine te help om volhoubaar te word. Ons nooi maatskappye om saam met ons te werk om suksesvolle tuine in agtergeblewe gemeenskappe op te rig,” het Cairns gesê. “Ons wil ook hê die skool moet eienaarskap neem van die grond wat beskikbaar is, sodat gesonde produkte produseer kan word om aan die voedingskema vir gesonde maaltye vir leerders te voorsien.”
Die skenking is deel van die viering van Wêreld-aarde-dag, wat Saterdag 22 April gevier is.
Organisasies wat ’n gemeenskapstuin wil oprig, kan September by die plaaslike ARA-tak in Atlantis kontak.





