Grosvenor Primêr se gr. 4-leerders en onderwysers wat die Robbeneiland-museum besoek het. Agter (van links) staan die onderwysers Zeta Davids, Kim Pietbooi en Jennifer Hoorn.Foto: David Rossouw


Altesaam 23 gr. 4-leerders van Grosvenor Primêr het Vrydag (24 Mei) die voorreg gehad om Robbeneiland te besoek en die historiese gedenkwaardighede te besigtig.

Hulle het ook die geskiedenis van Robbeneiland in die museum bestudeer.

Robbeneiland is in 1997 deur die departement van kuns en kultuur as ’n nasionale gedenkwaardigheid en Wêrelderfenisgebied verklaar en duisende toergroepe besoek die eiland jaarliks. Die Robbeneiland-museum implementeer ’n wye reeks bewarings-, opvoedkundige, toeriste-ontwikkelings-, navorsings en algemene erfenis-programme wat ontwerp is om die eiland se natuurlike en kulturele hulpbronne en erfenis te bewaar.

Vir van die leerders was dit hul eerste kennismaking met die Robbeneiland-museum, waar hulle vir die eerste keer kennis gemaak het met die historiese gedenkwaardighede en eerstehandse inligting van politieke gebeurtenisse ontvang het.

Weskus Nuus het ná die toer met drie leerders – Dane Basson, Jodie Sameuls en Lyle Adonis – oor hul ervaring na Robbeneiland gesels.

Volgens Dane was die toer opwindend en leersaam, en sy sal nooit dié ervaring vergeet nie. “Om te hoor wat ons vryheidsvegters moes deurmaak om ons land te bevry, is een van die mees verstommende gebeurtenisse in ons geskiedenis! Ons hoor gereeld van geskiedkundige gebeure op skool, maar ons kry dit nie altyd eerstehands ervaar nie.”

Jodie Sameuls het aan Weskus Nuus gesê om te hoor wat met Nelson Mandela en sy kamerade gebeur het, asook om te sien waar hulle gevange gehou is, “is vir elke jongeling en Suid-Afrikaner die moeite werd”.

Lyle Adonis het gesê: “Om (42) gevangenes met slegs 24 beddens te huisves, het ek geleer dat jy enigiets kan oorkom as jy die kameraderie in ag neem wat tussen Nelson Mandela en sy mede-kamerade tydens hul gevangenskap op Robbeneiland bestaan het.”

Die toergroep het die opvoeders en gidse geloof vir die wat hulle kon insamel net voordat die eksamens gister (Maandag 27 Mei) begin het.

“Dit is gewis die moeite werd en ons sal elke leerder aanbeveel om Robbeneiland te besoek om eerstehandse kennis op te doen oor die geskiedenis van ons vryheidshelde.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article