Punte! Young Hearts met hul nooit-opgee-houding het die verdedigende 2023-kampioen, Saldanha, op die grafkelder tot die uiterste beproef.Foto: Murphy Roberts


Saldanha het Saterdag harte op die grafkelder gebreek.

Die verdedigende Boland-kampioen het in die laaste minuut die grafkelder doodstil gehad toe die span teen die verloop van spel die wendrie en ’n bonuspunt behaal het.

Die kampioen het die wedstryd 31-23 gewen nadat hulle rustyd reeds 17-6 voor was. Young Hearts was egter in die eerste 20 minute van die wedstryd in beheer en het die kampioen op die agtervoet gehou. Young Hearts, wat ook vroeg in die wedstryd met 14 man oor die weg moes kom, het egter rotsvas verdedig en die kampioen moes met krummels tevrede wees.

Saldanha het egter meer as genoeg balbesit en gebiedsvoordeel geniet, maar ’n gebrek aan afronding het gelol.

Die wedstryd het in die tweede helfte die beste van beide spanne gesien en die tuisspan het gou sy agterstand tot net een punt verminder. Saldanha het egter gewys hoekom hy die verdedigende kampioen is en kort daarna nog ’n verdoelde drie behaal om sy voorsprong te vergroot.

Young Hearts se spelers het ook gewys dat hulle die hart van ’n leeu het en die kampioen tot die uiterste beproef. Met die tuisspan se nooit-opgee-houding het die span van Ruben Abels weer die agterstand tot een punt laat krimp. Saldanha is ook by tye met die bal agter die skrum betrap en met al die gebiedsvoordeel kon die kampioen dit eenvoudig nie in punte omgeskep kry nie.

Abels se waagstuk om posisionele skuiwe te maak, het ook vrugte afgewerp. Met die uurglas wat leegloop, het die tuisspan sterk op die aanval in die besoekers se kwartgebied egter besit verloor en die kampioen het die tuisspan en sy ondersteuners se harte met nog ’n drie gebreek. Mamre het gewys hy wil gewis na die uitspele gaan. Die groen truie het Paternoster 19-13 in ’n wegwedstryd geklop om sy tweede plek te verstewig.

Die twee plaaslike spanne pak mekaar hierdie naweek in Mamre.

Paternoster se nederlaag beteken die span het nou plek vir Velddrif in die derde plek gemaak. Met die liga wat einde se kant toe staan, is al die aanspraakmakers se lot in hul eie hande. St. Helenabaai se wiskundige kans raak ook elke naweek moeiliker en die Agterbaai sal hoop van die spanne voor hom se wiele begin afval.

Atlantis het ook Saterdag sy eerste nederlaag gely toe die span in ’n wegwedstryd teen Mannenberg vasgeval het. Atlantis, wat in die topnege van die WP vir promosie na die afdeling-C speel, het met 21-25 vasgeval.

Volledige uitslae: Young Hearts 23-31 Saldanha; Piketberg 25-32 St Helena; Langebaan 59-10 Koringberg; Paternoster 13-19 Mamre; Velddrif 32-23 Hopefield

Die naweek se program is, St. Helena t. Vredenburg, Saldanha t. Piketberg, Mamre t. Young Hearts, Hopefield t. Paternoster en Koringberg t. Velddrif (Langebaan los).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article