“As ons julle vang, gaan geen genade betoon word nie.”
Wessie van der Westhuizen, die subraad 1-bestuurder, het plaaslike houtkappers só gewaarsku.
“Die bosse langs die ou Mamre/Darling-pad is deel van die plaaslike erfenis. Dit was reeds hier voordat hier mense gewoon het en was ook hier voor die ontstaan van Atlantis,” sê hy. Houtkappers het nou hul byle skerpgemaak om van die bome af te kap, maar ’n onaangename verrassing wag op hulle, waarsku die subraad.
Van der Westhuizen sê hy was Dinsdagoggend (17 Mei) op pad werk toe en het ’n pas afgesaagde boom naby Witsand gewaar. “Ek kon my oë nie glo dat mense so waaghalsig kan wees nie, en soos gewoonlik, het niemand iets gesien of gehoor nie. Die bloekomhout is gewild – veral vir kaggels – en met die koue maande nou hier kan ons verwag dat hulle weer sal probeer,” sê hy.
“Die bekende pad is die langste bome-pad in Suid-Afrika en ek sal nie verbaas wees indien dit ook die langste in die wêreld is nie,” vertel hy teleurgesteld. Wetstoepassers op die toneel het inwoners gemaan om vorendag te kom om die skuldiges aan die kaak te stel. Die boom is deur werkers van die Stad opgesny en van die toneel af verwyder.
“Ons moet die erfenis van die gebied beskerm – veral vir toerisme-doeleindes,” sê Van der Westhuizen.

