Mishka Ganief vertel dat sy reeds ’n moeilike tyd met die gevreesde koronavirus moes deurmaak. Foto: Murphy Roberts


“Ek het net gevra dat sy op ’n ander sitplek moet sit sodat daar ’n veilige afstand kan wees.”

Die medepassasier in ’n MyCiti-bus was klaarblyklik nie ingenome met dié versoek nie, want toe het die houe geval, vertel die 56-jarige Mishka Ganief van Saxonsea.

Ganief, wat reeds die gevreesde Covid-19 oorleef het, sê sy is steeds uiters versigtig om ’n tweede keer geïnfekteer te word.

“Ek het by die dood omgedraai en was in drie verskillende hospitale voordat ek van dié virus herstel het.”

Ganief vertel sy het Woensdag 14 Oktober in die MyCiti-bus gery toe twee vroue inklim en langs haar wou sit.

“Ek het gevra of hulle nie op ’n ander sitplek wou sit nie omdat die bus redelik leeg was en ek net ’n veilige afstand wou handhaaf. Die twee vroue was baie aggressief en het volgehou dat een langs my sit,” vertel sy.

Ganief sê om moeilikheid te vermy, het sy besluit om op te skuif terwyl die vroue steeds aangegaan het oor die sitplek. “Ons het by dieselfde stop afgeklim omdat die twee (ma en dogter) om die draai van my woon. Ek het aan hulle my moeilike tyd met die virus verdui­delik en gevra dat hulle asseblief versig­tig moet wees en hul veilige afstand moet hou.”

Die paar het egter gal gebraak en gesê Ganief moet eerder met haar eie vervoer ry. “Die volgende oomblik lê ek op die grond.”

Sy is glo deur die twee vroue geskop en op getrap terwyl sy hulpeloos op die grond gelê het en is beskuldig dat sy rassisties is. Ganief moes mediese behandeling vir haar beserings kry. Sy het intussen ’n saak van aanranding by die Atlantis-polisie aanhangig gemaak. Volgens kapt. Liza Munro, ’n polisie­woord­voerder, word daar tans ’n klag van aanranding teen die twee vroue ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article