Die Atlantis-Rotariërs het Saterdag 31 Oktober ’n skoonmaak- en groentetuinprojek op die Orion-terrein van stapel gestuur om inwoners van Atlantis bewus te maak van die belangrikheid daarvan om die omgewing teen besoedeling te bewaar en mense terselfdertyd aan te moedig om groentetuine te maak.
Ná suksesvolle projekte soos Covid-19-voedselverspreiding en die skoolprogram op Radio Atlantis, het die Rotariërs besluit op ’n gesamentlike projek – om groentetuine op die been te bring. Rotariërs en Rotaracts van verskillende klubs, soos Kaap die Goeie Hoop, Melkbos, Pinelands, Waterfront, Kirstenbosch, en die plaaslike Atlantis-tak het aan die dag se verrigtinge deelgeneem.
Selfs die E-klub, Orion-personeel en twee plaaslike organisasies van Atlantis en Mamre, Atlantis Football Legends en Open Heart-projek, was almal deel van die projek.
“Met die omgewingsbewusmakingsinisiatief en groentetuine, hoop ons dat daar meer mense van die Atlantis-gemeenskap betrokke gaan raak deur by ons projekte in te skakel,” het Danny Pietersen, president van Rotariërs-Atlantis gesê.
Volgens Pietersen sal die groentetuine ook ’n bron van inkomste vir inwoners word omdat hulle self produseer en dan kan verkoop. Pietersen hoop dat die projek binnekort verder na ander dele van Atlantis sal uitbrei.





