Die Atlantis-grapjas Jeremia Kammies (41) is verlede Maandagaand (8 November) as een van die drie finaliste by die Lag My Kla-kompetisie aangewys.
Die tweede Lag My Kla-kompetisie is geborg deur Die Son, kykNET, MTN en die Suidoosterfees.
Nolan Europa van Delft is as die nommer-een-grapjas aangewys, maar Kammies het gewis ook naam gemaak.
Kammies, wat tans in Gauteng werk, vertel die ondervinding wat hy opgedoen het met ervare komediante soos Shimmy Isaacs, Francois van As en Lunga Tshuka, is baie meer werd as die prysgeld.
Volgens hom het sy liefde vir grappies reeds op ’n vroeë ouderdom begin toe hy moes rondval vir ’n Huisgenoot sodat hy net die grappiesafdeling, “Huisgenootjies”, kon lees. “Ek was altyd baie lief om grappe te maak, maar het eers op 35 besluit om ernstig aan my streke te werk,” vertel hy.
Kammies vertel sy grappige houdings het ook sy trouvrou nader gelok, maar ná die troue het sy grappies haar begin irriteer en het sy nie meer kans vir die grapjas gesien nie, vertel hy steeds grappig.
“Ek het as ’n beginner vir die kompetisie ingeskryf en wou maar net sien of ek dit in my het om ’n grapjas te wees. My kort video het egter aandag getrek en daarna het ek ernstig gewerk om die topdrie te haal,” sê Kammies.
“Die aankondiging dat ek onder die topdrie is, het my meer selfvertroue gegee en het besef dis wat ek wil doen.”
Kammies sê die feit dat hy tans in Johannesburg woon, het voordele, want “dis hier waar dinge gebeur”.
Hy mee die kompetisie kon nie op ’n beter tyd gekom nie. “Dit het my nou op die map geplaas en skielik bel mense my om by geleenthede op te tree.”
As alles volgens plan verloop, sal Kammies in Desember sy tuisdorp se mense met sy grappe kom vermaak.





