Jordan se ouers begelei hul oudste se oorskot in die kerk. Foto: David Rossouw


Honderde inwoners het Saterdag opgedaag om afskeid van Jordan Moore (16) te neem wat Vrydag 6 November wreed vermoor is.

Talle inwoners en leerders het hul laaste eer aan Jordan, ’n graad 10-leerder van Robinvale Sekondêr betoon tydens sy emosionele begrafnis.

Terwyl trane vrylik oor byna elke begrafnisganger se wange geloop het, soek baie steeds antwoorde vir die klomp onbeantwoorde vrae wat steeds gevra word.

Jordan is vroeër vandeesmaand vermoor toe hy en sy maats tydens ’n huispartytjie gaan stap het. Manne het vermoedelik honde op die groep losgelaat en die maats het in verskillende rigtings gehardloop. Jordan se liggaam is later in ’n oop veld ontdek.

Weskus Nuus het met verskillende begrafnisgangers gepraat.

Pearl Johnson, ’n graad 7-onderwyser van Wesfleur Primer, sê dit is moeilik om te glo dat die gemeenskap van “so ’n wonderlike seun” moet afskeid neem. “Ons stelsel faal ons en Atlantis moet opstaan en saam teen hierdie wrede moorde in ons gemeenskap en bendegeweld staan.

“Ons het hard geveg om dit moontlik te maak dat ons kinders vryheid kan geniet, maar ons regstelsel laat ons in die steek,” sê Johnson.

Skoolmaats Natalie Chapman (gr. 9), Beyonce Japhta (gr. 9), Grezhan Lentjies (gr. 10) en Tasville Bailey (gr. 11) sê wat met Jordan gebeur het, is nie iets goeds vir die dorp nie en misdaad moet deur almal bekamp word. “Dit is nie meer veilig vir ons as die jeug van die dorp nie en ons pleit vandag by ons leiers om ons te beskerm, want dit is nêrens meer veilig vir ons nie,” meen dié maats.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article