Inwoners van Atlantis eis dat dienste dadelik verbeter moet word.


Die Wesfleur-hospitaal “is erger as ’n dierehospitaal”!

Só braak inwoners gal oor die hospitaal wat die afgelope tyd onder die vergrootglas is.

Inwoners het onlangs op sosiale media uitgevaar oor die diens by die hospitaal wat inwoners en leiers rooi laat sien.

Die klagtes wat opduik, is van personeel wat slaap en nie aandag aan pasiënte gee nie, pasiënte wat huis toe gestuur word sonder enige mediese aandag, die toestand van die hospitaal en personeel se onbeskoftheid teenoor pasiënte.

Die voorval wat die meeste aandag op sosiale media geniet, is dié waarin ’n jong ma haar baba glo weens beweerde nalatigheid van mediese personeel by die hospitaal verloor het. Die 25-jarige vrou, wat vyf maande swanger was, is na bewering hospitaal toe nadat haar vrugwater gebreek het. Die hospitaal het blykbaar aan die ma gesê dit was nie haar vrugwater wat gebreek het nie. Dit was nadat hulle vasgestel het die baba se hart klop nog en sy is huis toe gestuur.

Sy het later net begin bloed vloei en is weer na die hospitaal gejaag.

Personeel het toe vasgestel daar is geen hartklop nie, maar haar steeds weer huis toe gestuur met die opdrag om terug te kom om die baba “voor te bring”.

Volgens die sosialemediaberig, wat intussen gesluit is, moes die ma vir vyf dae met die dooie kind in haar maag rondloop. Wat inwoners en leiers die meeste omkrap, is die feit dat die ma, wat reeds erg getraumatiseerd was, die dag voordat sy moes terugkeer hospitaal toe, met maagwerke toilet toe is. Tot haar verbasing het sy ’n “plofgeluid” gehoor toe die baba in die toilet val.

Volgens Natalie Watlington, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, was die ma by die hospitaal.

Watlington het bevestig dat die vrou huis toe gestuur is omdat daar geen gevaartekens was nie. Volgens die departement van gesondheid het die hospitaal haar huis toe gestuur om by familie te wees nadat sy ’n miskraam gehad het.

In ’n ander voorval het Ashmean Jacobs van Darling ’n amptelike klagte teen die hospitaal aangemeld nadat hulle ook glo “swak diens” ontvang het. Volgens Jacobs het haar kind by die skool begin opgooi en sy en haar man moes hom dringend by ’n hospitaal of kliniek kry. “Ons is na Mamre-kliniek en my kind is daar op ’n drup gesit en met ’n ambulans na die Wesfleur-hospitaal geneem. Ek moes my kind met drup en al ronddra en na ’n leë bed soek omdat personeel ons eenvoudig ignoreer het. Die dokter, wat nie belanggestel het om my kind te ondersoek terwyl hy steeds opgegooi het nie, wou egter weet hoekom het ons nie by Darling-kliniek gewag het om gehelp te word nie.”

Watlington het by verdere navraag aan die departement gesê hulle het die klagte ontvang en dit word tans ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article