Hy is die eerste student wat die Masidlale-prys vir student van jaar ontvang het en het sy gr.1-fluiteksamen met 85% geslaag.
Miguel Titus van Pella het ook Donderdag 6 Februarie op die SABC-ontbytprogram, Expresso Morning Show, die land betower met sy weergawe van Josh Groban se lied, “You Raise me Up”, wat hy op sy fluit gespeel het.
Dié gr.8-leerder aan Saxonsea Sekondêr het nooit besef dat die fluit só ’n groot impak op sy lewe sou hê nie. Sy ma Marilyn vertel Miguel het in 2017 begin blokfluit speel. “Hy was maar net 10 jaar oud en ’n leerder aan Pella Primêr toe hy deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se Masidlale Grassroots-opleidingsprojek aan musiek blootgestel is.
Marilyn vertel dat omstandighede en verskillende uitdagings daartoe gelei het dat hy belangstelling in musiek verloor het totdat Sweedse burgers vyf fluite aan die skool geskenk het. Die gogga het Miguel tóé behoorlik gebyt.
“Toe hy die fluit die eerste keer optel, was dit asof sy vingers met die fluit praat en hy het net begin speel asof dit tweede natuur was en soos hulle sê: Die res is geskiedenis,” voeg sy by.
“As ek speel voel ek kalm en gelukkig, vertel die 13-jarige oor sy talent.
Miguel se musiekonderwyser, Ash-lee Louwskieter, sê hy het dadelik geweet Miguel het ’n spesiale talent en gaan ver in musiek kom.
Shirley de Kock Gueller van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes vertel Miguel het in 2019 sy gr.1-Trinity-fluiteksamen met 85% geslaag en is nie net lid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se musiekakademie waar hy tans gespesialiseerde musiekonderrig ontvang nie, maar ook deel van die akademiese blaasorkes.
Miguel sê hy wil graag met sy talent ander inspireer en sal graag ná skool ’n musiekonderwyser wees met sy eie musiekskool.





