R10 000 borgtog is aan ’n man toegestaan wat na bewering vroue op sosiale media geteister het.
Weskus Nuus het in die laaste uitgawe berig dat die 46-jarige verdagte fopprofiele op Facebook geskep het en homself as ’n mediese dokter, fotograaf, modelagent, fiksheidsinstrukteur en ’n lesbiese vrou voorgedoen het en só na bewering niksvermoedende vroue gekry het om naakfoto’s en video’s van hulself aan te stuur. Hy het hulle dan glo afgepers om seksdade te verrig.
Die beskuldigde is Woensdag 25 Maart by sy werk aangekeer. Die polisie het ook op sy persoonlike- en werkrekenaar beslag gelê vir ontleding.
Die man het weer Dinsdag 14 April in die Atlantis-hof verskyn op ’n aanklag van verkragting, statutêre verkragting en die verspreiding van kinderpornografie.
Die pa van Mamre is streng borgtogvoorwaardes opgelê, onder meer dat hy elke dag by Atlantis-polisiekantoor moet aanmeld, nie sy voete in Mamre mag sit nie en geen kontak met slagoffers mag hê nie.
Hy mag ook geen kontak met kinders, behalwe sy eie, hê nie.
Die man verskyn weer Dinsdag 30 Junie in die hof.




