Margaret Baron, Megan Colby en Muslima Daniels wil weet waar het die mense hul besonderhede gekry. Volgens hulle het hulle nog nooit enige geld van SARCO ontvang nie.Foto: Murphy Roberts


Terwyl baie inwoners sukkel om kos op die tafel te sit en baie hul werk verloor het tydens die grendeltyd het korrupsie en bedrog glo hoogty gevier.

Noodsaaklike staatshulp, wat die pot aan die kook moes hou, het nooit by die begunstigdes uitgekom nie.

Drie inwoners met wie Weskus Nuus gesels het sê hulle ken glad nie die organisasie wat vermoedelik namens hulle staatshulp ontvang het nie.

Hulle wil ook weet waar en hoe hulle hul besonderhede gekry het. Baie is ook woedend nadat hulle uitgevind het dat geld sonder hul wete geëis is.

“Ek is tans werkloos en werk net sommige naweke by ’n winkel in Atlantis,” vertel Muslima Daniels.

Volgens registrasiedokumente van haar “spookwerkgewer”, die South African Residents Civic Organization (SARCO), werk sy reeds sedert 1 Oktober 2019 by dié “organisasie” en word sy maandeliks betaal.

“Ek het nog nooit geld van die mense ontvang nie,” sê ’n omgekrapte Daniels.

Sy het ook bankstate getoon om dit te bewys.

Volgens Megan Colby (25) is sy verbaas dat sy ’n nuwe baas het nadat sy haar werk aan die begin van die Covid-19-grendeltyd verloor het.

“Ek het sedertdien geen inkomste nie en het ook nooit ’n sent van die byna R9 000 gesien wat namens my uitbetaal is nie,” sê sy.

Colby het ook aan Weskus Nuus erken sy het nog nooit van die organisasie gehoor nie.

Sy wou ook weet hoe SARCO haar persoonlike inligting bekom het.

Met verdere ondersoek het Weskus Nuus bevind 36 mense “werk” tans vir die organisasie en nagenoeg R300 000 is deur die staat se noodfondse tydens die nasionale Covid-19-inperking aan SARCO uitbetaal.

Ruben Swartz, voorsitter van SARCO, is genader vir kommentaar, maar het nie Weskus Nuus se oproepe beantwoord nie en het Donderdag (19 November) met ’n WhatsApp-boodskap verduidelik hy het “niks vir Weskus Nuus te sê nie”.

Volgens David Esau, beampte van die departement van arbeid, sal ’n ondersoek beslis van stapel gestuur word.

Kapt. Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag van bedrog is geopen in verband met die klagtes van die “SARCO-werkers”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article