“Hy lewe. Help hom asseblief!”
Dit was ’n ma se hulpkrete aan mediese personeel by Wesfleur-hospitaal, maar niemand wou glo aandag skenk nie, vertel ’n verbitterde ma nadat haar pasgebore baba seuntjie gesterf het.
“Dokters by die hospitaal wil nou sê hy is staatseiendom, omdat hy dood gebore is,” verduidelik Cee-Jay Cloete (24).
Die Cloete-gesin sê op hul beurt hulle sal nie rus voordat geregtigheid geskied nie.
Cee-Jay van Beacon Hill was ses maande swanger toe haar baba gebore is. “Ek het Sondag 11 April ’n afskeiding gehad en besluit om eerder hospitaal toe te gaan omdat ek nie kanse wou waag nie.”
Die hartseer ma vertel sy en haar jonger suster is “uit die kraamafdeling gejaag”. Die personeel het gesê “gaan wag by ongevalle”.
Volgens Cee-Jay het ’n dokter by ongevalle gesê sy moet onmiddellik twee pynpille drink en die volgende oggend weer twee.
Codline Cloete, Cee-Jay se jonger suster, sê sy het gesien haar suster was huiwerig om die pille te neem, maar die dokter het aangedring sy moet.
“Ons is toe huis toe gestuur en ons nagmerrie het begin,” vertel sy.
Volgens Cee-Jay het sy die volgende oggend erge pyne gehad en begin bloei, waarna sy terug is.
Codline sê hulle is weer na ongevalle gestuur om te wag.
“My suster moes in die gang lê en het gekreun van die pyn. Niemand het na haar omgesien nie en sy het geboorte gegee terwyl niemand byderhand was om haar te help nie.”
Cee-Jay sê haar “pienkvoetjie” het geskree. “Ons moes hom self met ’n doek bedek.”
Volgens haar ma, Nazeema Cloete, het haar kleinkind op ’n kostrollie gelê. “Ons het gevra vir ’n broeikas omdat die kleintjie op ses maande gebore is. Dit het op dowe ore geval en ons is eerder verskree dat ‘ons verniet aangaan’,” vertel sy.
Volgens die Cloete-familie kon hulle duidelik hoor die baba sukkel met asemhaling, maar hulle is steeds behandel asof dit normaal was. Baba Joshua, soos hy gedoop sou word, is ná ’n uur oorlede. “En skielik was almal rondom die mamma,” vertel die familie.
Wat verder tot hul ongelukkigheid bydra het, was dat hulle aanvanklik nie die kindjie mag begrawe het nie. Hulle is glo meegedeel “hy is staatseiendom”, maar het intussen die oorskot gekry. Hulle wag nou op ’n lykskouing voordat hulle met regstappe begin.
Volgens Natalie Watlington, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid, het die pasiënt voldoende sorg en medikasie ontvang en was dit nie nodig om haar op te neem nie. Sy sê die pasiënt is die volgende dag met ’n onvermydelike miskraam gediagnoseer en mediese personeel het die pasiënt bygestaan, maar die baba is dood gebore.
Volgens Watlington word berading vir die familie deur haar departement gereël.





