Avondale Primêr word op 14 Oktober op gepaste wyse ingewy – oudleerders, onderwysers en die gemeenskap word genooi na die “Nag van die Oscars” om deel te wees van die spesiale geleentheid wat nie mis geloop moet word nie.
Die skool was in 2018 in die nuus toe ouers en politieke leiers die skool se hekke gesluit het omdat dit ’n gevaar vir leerders ingehou het. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) was nie net genoodsaak om aan die ouers en gemeenskap se eise te voldoen nie, maar moes ook die ouers verseker dat ’n nuwe skool in Avondale opgerig sal word.
Ná die voltooiing van die skool het die WKOD dit in 2020 amptelik aan die Avondale-gemeenskap oorhandig en sedertdien is alle verwagtinge oortref.
Die skool word oor twee weke tydens ’n “Nag van die Oscars”-viering amptelik ingewy. Verskeie TV-persoonlikhede en musieksterre in die vermaaklikheidswêreld gaan gaste vermaak. Die bekende Cedwyn Joel, sepie-akteur van Suidooster, is die seremoniemeester.
Volgens Karin Johnson, waarnemende adjunkhoof en koördineerder van die viering, sien hulle baie uit na die geleentheid en hoop hulle dat dit ’n suksesvolle aand vir Avondale sal wees.
“Die idee is om ons dank te betuig aan al die rolspelers wat verantwoordelik was vir die oprigting van die nuwe skool en ons waardering as gemeenskap te wys,” het Johnson gesê.
Kaartjies is beskikbaar teen R300 elk by die skoolpersoneel.. Belangstellendes wat kaartjies wil koop, kan Johnson by die skool by 021 572 2970 of per e-pos by Avondale.prim@wcgschools.gov.za kontak.


