Skole in Atlantis het onlangs die beste skoolhoof in die Wes-Kaap opgelewer vir uitnemendheid in Primêre Skoolleierskap tydens die provinsiale onderwysers-toekennings, wat Saterdag 24 Augustus in Kaapstad gehou is.
“Ek voel geëerd as die skoolhoof van Berzelia Primêre Skool om die prys vir uitnemendheid in Primêre Skoolleierskap te ontvang. Hierdie erkenning behoort aan die toegewyde personeel van Berzelia Primêre Skool en die ondersteunende gemeenskap van Atlantis en Witsand. Ons het saam ’n omgewing geskep waar uitnemendheid nie net in die klaskamer nie, maar ook op die sportveld floreer. Hierdie erkenning weerspieël die harde werk, toewyding en passie van die hele Berzelia-span,” het Gershwin Kroukamp, skoolhoof, gesê.
“Ek is diep nederig oor hierdie erkenning en beskou dit as ’n bewys van die kollektiewe poging van ons personeel, leerders, en gemeenskapslede wat buiten alles bestendig bly.
“Ek aanvaar hierdie toekenning met opregte nederigheid, wetende dat dit ons gedeelde visie en toewyding is wat dit moontlik gemaak het. Ek dra hierdie eer op aan die skoolgemeenskap en die uitsonderlike span by Berzelia Primêre Skool, wat die ware ontvangers van hierdie toekenning is,” het Kroukamp bygevoeg.
Kroukamp volg in die voetspore van Grosvenor se skoolhoof, Terence Adams, wat drie jaar gelede ook hierdie toekenning ontvang het.
Onderwysers en skoolhoofde se bydraes ná gewone skool-ure word nie altyd raakgesien nie.
Soms tree hulle ná-ure in verskeie hoedanighede en aktiwiteite op wanneer die nodige mense nie altyd betyds bereik kan word nie, en daarom word hul bydraes buite skoolaktiwiteite nie altyd opgemerk en erken nie.





