Avondale-buurtwag het Woensdag 19 Julie tydens ’n vergadering in die Avondale-gemeenskapsaal inwoners aangemoedig om by die buurtwag aan te sluit.
Aubrey Diedericks, voormalige voorsitter van Avondale-buurtwag, het in sy laaste toespraak as voorsitter gesê mense kla gedurig oor die hoë misdaadsyfer, maar niemand is bereid om iets daaraan te doen nie. “Avondale was een van die grootste en mees aktiewe buurtwagte in die dorp. Ons kan nie toelaat dat kwaaddoeners, wat in die minderheid is ons regeer nie,” sê Diedericks.
“Misdaad in ons dorp is besig om handuit te ruk, terwyl inwoners toekyk en niks daaraan doen nie. Tien lede kan nie byna 30 000 inwoners bedien nie,” het Diedericks bygevoeg.
Nuutverkose voorsitter, Cameron Ludick, sê hulle gaan voortbou op die goeie werk van die vorige bestuur en sien daarna uit om die organisasie weer een van die grootstes in Atlantis te maak.
Ludick het sy teleurstelling uitgespreek oor die swak opkoms en maan die gemeenskap om aan te sluit by die buurtwag.
Abdul Tajoodien, voorsitter van die Milnerton-kluster se gemeenskapspolisieringsforum, het weerkaatsbaadjies aan die groep geskenk.


