Weskus Nuus en Supersport se laaste twee Let’s Play-wenners vir die jaar is die 13-jarige Tamia Arends en Liam Adonis van Mamre Primêre skool.
Die veelsydige gr. 7-leerders beoefen tussen hulle omtrent elke sportkode wat daar is: atletiek, netbal, raakrugby, rugby, gholf en krieket.
Die twee is reeds 11 jaar by die skool. As tweejariges het hulle saam by die Tiny Tots-crèche begin wat op dieselfde perseel as die skool is.
As graadeentjies het die sportgogga begin byt en hoe dan nou anders as jy uit sportmalfamilies kom.
Tamia se ma, Claudine, is die skool se sportafrigter en is self ’n provinsiale rugbyspeler. Die appel het nie ver van die boom geval nie, dus blink Tamia uit in gewigstoot, diskus, netbal en raakrugby en pouses skroom die jong vrou nie om ook haar uniform vol stof te kry en bietjie saam met die seuns rugby te speel nie. Sy het vanjaar tot die Westelike Provinsie se byeenkoms vir gewigstoot deurgedring.
Liam se liefde vir sport word ook aangehits deur sy boetas, pa en oupa. Hy het aan die begin van die jaar leer gholf speel nadat sy broer vir hom ’n gholfstok gegee het. Die skoolhoof het hom een middag op ’n oop stuk veld langs die skool sien oefen en hom aangemoedig om by die span aan te sluit. Sedertien is Liam reeds gekies om die Atlantis-streek te verteenwoordig in ’n Westelike Provinsie-gholftoernooi.
Beide leerders is prefekte by die skool en Tamia is ook die hoofdogter. Haar gunstelingvakke is wiskunde, Engels en Afrikaans terwyl Liam van wiskunde, lewensoriëntering en tegnologie hou.
Tamia wil graag eendag ’n rekenmeester of prokureur word en Liam is seker daarvan dat hy ’n gholf- of rugbyafrigter wil word.
Die sportkodes wat hulle beoefen, is seisoengebonde dus het dit nie ’n invloed op hulle studies nie. Maar soos hul afrigter sê, “skoolwerk kom eerste” en daar is altyd tyd vir familie en ontspan, veral op Sondae.
In haar aftye speel Tamia graag speletjies op haar selfoon of kyk sy televisie. Liam sê sy gunstelingvermaak is om sy jonger suster te terg.
Beide atlete is dit eens, sport het hulle geleer om respek vir hulleself, spanmaats en afrigters te hê asook om dissipline te handhaaf.

