Inwoners van Mamre sê die tyd het aangebreek om hul gemeenskap terug te neem.Foto: Patrick Oppelt


Genoeg is genoeg!

Sowat 200 inwoners van Mamre het Saterdag 15 Februarie die strate inge­vaar om ’n duidelike boodskap aan dwelmhandelaars te stuur: “Hul uurglas is besig om leeg te loop”.

Dié optrede volg nadat misdaad die afgelope paar jare hoogty vier in die eens rustige sendingdorpie.

Jo Cooper van die Mamre-inwoners­vereniging het die dwelmhandelaars gevra om hul bedrywighede te staak, want dit gaan nie langer geduld word.

Cooper sê voorts hulle het ook spaza-winkels, wat deur buitelanders bedryf word, besoek en gevra om hul bedrywighede te staak, want hulle verkoop glo onwettige goedere aan kinders. Inwoners het ook gevra dat dié winkels teen ’n sekere tyd gesluit moet word.

Van die betogers het aan Weskus Nuus gesê hulle is moeg vir inbrake en voer ook aan dat mense in die vroeë oggendure op pad werk toe beroof word.

“Ons gaan nie ophou totdat die euwel verwyder is nie. Die polisiekantoor moet ook weer oopgemaak word, want dit sal bydra tot meer sigbare poli­siëring in die dorp,” meen Cooper.

Kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisie­woordvoerder, sê die heropening van die satelliet-polisiekantoor is ’n besluit wat slegs deur die nasionale polisieleiers gemaak kan word en hul hande is afgekap.

Volgens Dicks is daar daagliks polisielede van 08:00 tot 16:00 sigbaar.

Die vereniging doen ook ’n beroep op kerke, pastore en organisasies om die gemeenskap te help om die sosiale probleme aan te spreek.

Volgens Cooper sal die situasie gemonitor word deur die inwoners om verdere optrede te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article