Ali Hussian wys waar die twee wetstoepassers die boks sigarette gekry hetFoto: Murphy Roberts


Die twee wetstoepassers wat sigarette by ’n Bangladesji gegaps het, is Vrydag 29 Mei in hegtenis geneem en het in die hof verskyn.

Dié twee is gewaarsku en verskyn weer 24 Junie in die hof.

Die wetstoepassers het onlangs die huiswinkel in Uitbreiding 12 besoek en amok gemaak. Ali Hussian vertel die twee beamptes het Donderdag 14 Mei byna die winkel afgebreek om toegang te verkry en dat hulle ’n geseëlde boks sigarette in sy kamer gekry het en ook ’n groot bedrag kontant gegaps het.

“Ek het gevra waarom vat hulle die sigarette en waarom word ek nie ’n boete opgelê nie – soos wat die wet voorskryf ’n polisielid of wetstoepasser moet doen indien hulle mense betrap wat handel in die verkoop van sigarette dryf, maar dié twee het net geloop asof hulle inkopies kom doen het,” vertel hy. Hussain vertel hy het onraad vermoed en het onmiddellik die polisie gebel wat hom gesê het die manne het onwettig opgetree.

Die spazawinkel­eienaar het ’n saak teen die twee wetstoepassers aanhangig gemaak nadat daar gevind is dat geen sigarette by die polisiekantoor ingehandig is nie. Die boks, wat 500 pakkies sigarette bevat met ’n swartmarkprys van byna R100 000, is nie onmiddellik ingehandig nie. Die twee wetstoepassers het twee dae na dié voorval en nadat Hussain ’n saak aanhangig gemaak het, 100 pakkies sigarette by die polisiekantoor ingedien. Volgens Hussain is ander buitelandse winkeleienaars ook geteiken. Volgens Richard Bosman, direkteur van veiligheid en sekuriteit by die Stad-Kaapstad is die twee lede geskors en word die voorval ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article