Die De Klerk-familie in Sherwoodpark het Saterdag 25 Julie ’n noue ontkoming gehad toe hul wendyhuis van buite begin brand het.
Die familie van agt het alles in die brand verloor toe die wendyhuis tot op die grond afgebrand het.
Charlotte de Klerk (39), ma van ses, het ernstige brandwonde opgedoen toe die dapper vrou eers al haar kinders uit die brand gered het.
Volgens ooggetuies het die dapper ma die venster gebreek en haar kinders een vir een deur die venster gegooi. Die ma, wat nie deur die venster kon ontsnap nie, moes met die brand wat om haar woed sukkel om die deur oop te breek om so van die vlammehel te ontsnap. Sy is intussen na ’n Kaapse hospitaal oorgeplaas en word steeds vir haar brandwonde behandel. Die kinders wat wissel van een tot 13 jaar en haar man het egter ligte beserings opgedoen.
Volgens Ruben Swarts, gemeenskapsleier in dié gebied, was die gemeenskap baie behulpsaam en het hy ook dadelik die rampbestuur in kennis gestel wat ook die slagoffers bygestaan het. . Die 60-jarige Peter Sauls van Erikastraat, Proteapark het ook alles in ’n brand verloor toe sy wendyhuis tot op die grond afgebrand het.
Sauls het gelukkig ongedeerd van die voorval afgekom.


