Inwoners van Mamre het Donderdag 30 Julie buite die Atlantis-hof met plakkate betoog ter ondersteuning van ses mans wat deur die polisie in hegtenis geneem is tydens Maandag 27 Julie se betoging in dié dorp.
Dié groep inwoners sê hulle is keelvol vir polisiewreedheid en meen die polisie het eers met rubberkoeëls geskiet waarna skerp ammunisie op betogers gebruik is. Slapende inwoners is uit hul beddens geruk en deur die polisie aangerand en verskeie mense moes mediese behandeling ontvang.
Volgens Chris Nissen, van die Suid Afrikaanse menseregtekommissie (MRK), het hy die Maandagaand ’n oproep ontvang om te verduidelik wat wat gebeur het. Nissen het Dinsdag 28 Julie ’n vergadering met die plaaslike polisiebestuur gehad en wou weet of daar enige minderjariges steeds opgesluit is.
“Die polisie het my verseker geen minderjariges is in hegtenis geneem nie, maar met my besoek aan die selle het ons vier minderjariges in die selle gekry,” het Nissen gesê. Volgens Nissen staan die MRK nou die families by en word die ondersoek deur sy kantoor gemonitor. Die saak is tot 30 September uitgestel en die mans is vir openbare geweld in hegtenis geneem.
Volgens Yvonne Davids het die polisie haar 15-jarige seun goed pak gegee en is hy ook tussen die volwasse mans in ’n sel gegooi.
’n 13-jarige seun wat ook toegesluit is, se familie vertel hulle is geskok in die manier hoe die polisie die kinders geslaan het.
“Enigeen was van die straat gevat en ons weet nie wat die klag teen hom is nie,” het ’n familielid gesê wat anoniem wou bly. Volgens Nissen gaan die MRK met al die families konsulteer oor die pad vorentoe.





