Die Women’s Legal Centre en Tobin Prokureurs in samewerking met die Menseregtekommissie het Saterdag 22 Augustus klagtes van inwoners in Mamre-skoolsaal geneem.
Volgens Seehaam Samaai, hoof van die Women’s Legal Centre, spruit meeste van die klagtes uit die betoging wat Maandag 27 Julie in Mamre plaasgevind het.
Volgens Samaai het die Legal Centre tans ongeveer 20 sake waarvan die meeste polisiebrutaliteit is.
Inwoners het die dag betoog teen ’n tekort aan behuising en swak dienslewering en verskeie mense is na bewering in hegtenis geneem en aangerand.
Die polisie het met rubberkoeëls en skerp ammunisie op die betogers losgebrand en nege mans het reeds in die hof verskyn, waaronder twee minderjariges.
Volgens Lee Tobin van Tobin Prokureurs, verteenwoordig sy firma die nege mans en sê sy kliënte verskyn op verskillende klagtes van aanranding, eiendomsbeskadiging, openbare geweld tot die bywoning van ’n onwettige byeenkoms.
Die polisie het ook na bewering onskuldige mense uit hul huise gaan haal en toegesluit. Volgens adv. Chandre Brown, verteenwoordig sy tans vir Gay Alexander, wat ’n ernstige breinbesering opgedoen het toe die polisie haar eers aangerand en toe in hegtenis geneem het.
Volgens haar man, Noël Alexander, woon hulle ongeveer 40 meter van waar die betoging plaasgevind het. Alexander vertel hy het die gebeure vanuit sy bed dopgehou aangesien sy kamervenster na die pad wys terwyl sy vrou en nog ’n vrou buite gesit het.
“Ek het net gehoor my vrou gil ‘los my, los my!’ toe spring ek op om te gaan kyk wat aangaan. Ek het ordentlik aan die polisie gevra waarom hulle my vrou vat en die volgende oomblik lê ek op die grond.”
Alexander vertel sy 52-jarige vrou was baie siek in die selle, maar niemand wou haar hospitaal toe neem nie. Ons is egter ’n tragedie bespaar toe verteenwoordigers van die Menseregtekommissie ons twee vry gekry het sodat my vrou mediese sorg kon kry.
Weskus Nuus het in die laaste uitgawe berig die Menseregtekommissie het volgens hul kommissaris, Chris Nissen, ook op minderjariges in polisieaanhouding afgekom.
Die nege verdagtes verskyn weer 30 September in die plaaslike hof. . Volgens Kim Carlse, ’n prokureur van Atlantis wat Dean Brewel bystaan wat sy seun Demitri Brewel (23) vroeër dié jaar aan die dood afgestaan het terwyl hy in aanhouding was, is die saak ook nou by die Menseregtekommissie aangemeld.





