Vroue van Avondale het Sondag 30 Augustus by 7/11 byeengekom om Vrouemaand af te sluit.Foto: Murphy Roberts


Die burgemeester van die Stad Kaapstad, Dan Plato, het Sondag 30 Augustus Vroue­maand in Atlantis op ’n gepaste wyse afge­sluit en 2 000 vroue met geskenkpakkies verras.

Die burgemeester het vroue gevra om hul stem dik te maak teen die geweld teen vroue en kinders.

“Vroue moet praat as hulle slagoffers van geslagsgeweld is, want dit kan in die huis of enige ander plek gebeur,” het Plato gesê.

Plato het die vroue van Atlantis gemaan om geslagsgeweld by die polisie aan te meld en het gesê hulle moet beskerm word omdat hulle die omsieners in ons gemeenskappe is.

“Jy moet ook na jou suster, moeder, vriendin en kollega omsien wat deur geslagsgeweld geraak word,” het die burgemeester gemaan.

Die proporsionele raadslede Joseph Witbooi en Allister Lightburn het op hul beurt ook sterk uitgevaar teen mans wat hul skuldig maak aan geweld teen vroue en kinders. Dié twee het mans gevra om die vroue in hul lewe te beskerm en te respekteer.

Die wyksraadslid Barbara Rass, wat ’n jare lange kampvegter teen die mishandeling van vroue is, het inwoners gevra om sterk te staan teen mans wat vroue mishandel en het vroue gemaan om nie oortreders se doen en late weg te steek nie. “Ons is die rotse en fondamente van die huishouding en mans moet dit aanvaar en vrede daarmee maak,” Rass bygevoeg.

Cynthia Clayton, wyksraadslid van wyk 29, het op haar beurt vroue in die gebied geprys as prinsesse van die dorp. Vroue is bederf met pakkies wat lekkernye en persoonlike artikels bevat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article