Jomo’s Power is tans besig met voorbereiding vir die 2020-’21 se ABC Motsepe-liga.
Jomo’s het in die laaste twee dekades een van die suksesvolste spanne in die Atlantis Plaaslike Sokkervereniging (APSV) geword.
Opwindende sokker word vir die Motsepe-liga voorspel. Dit deels danksy ’n magdom jong talent in Lonn van Graan se span.
Die span maak tans gebruik van oop speelvelde omdat hulle wag vir Atlantis PSV om toestemming te kry om van die munisipale sportterrein gebruik te maak.
Die Atlantis PSV is tans in gesprek met die Stad Kaapstad se departement van sport en rekreasie om sportvelde beskikbaar te stel vir sy verskeie klubs.
Die hoop is om vanaf Dinsdag 1 Desember op die Robinvale-sportterrein te begin speel, aldus Van Graan.
Jomo’s hoop om vanjaar beter te vaar danksy sy jong talent. Van Graan en die bestuurspan hoop dié nuwe bloed sal genoeg wees om die span weer onder die top-10 van die Wes-Kaap te plaas.
“Baie van die jong spelers was verlede jaar in die diepkant ingegooi, maar hulle behoort beter te vaar noudat hulle meer ervaring opgedoen het,” sê Van Graan.
Die ervare, Valentino Thomas, 2016-’17-SAFA provinsiale speler, is weer beskikbaar en mag bydra dat Jomo’s die nuwe seisoen op ’n hoë noot begin.
“Ook met beter geriewe tot ons beskikking, kan ek en my spelers nou konsentreer op nuwe kombinasies en spelers kan nou ook vrylik beweeg omdat die speelveld gelyk is. Noudat uitspeelwedstryde vir promosie tot die Glad African-kampioenskapliga iets van die verlede is, is dit ’n uitgemaakte saak dat ons liga met alle sekerheid laat in Desember gaan begin,” meen hy.
Volgens SAFA sal Covid-19-reëls steeds vir amateursokkergeleenthede geld. Dit beteken paviljoene sal vir eers leeg wees, maar Van Graan sê ’n gebrek aan toeskouers sal geensins hul spel benadeel nie, “want ons doel is om goeie sokker te speel en om onder die top-10 of selfs die topagt klaar te maak”.


