Atlantis-modelskool het 2020 suksesvol afgesluit toe vyf deelnemers van dié skool met spogtitels huiswaarts gekeer het.

Die vyf deelnemers het aan die Mnr. en Mej. Stad Kaapstad en Mnr. en Mej. Westelike Provinsie (WP) deelgeneem en kragte teen honderde modelle van die metro gemeet.

Die twee geleenthede het onderskeidelik op 17 Oktober en op 28 November 2020 plaasgevind.

In die junior afdeling vir mans het Rowan van Reenen (20) met die titels, van Mnr. Stad Kaapstad en Mnr. WP weggestap.

Só het hy outomaties gekwalifiseer as ’n finalis van Mnr. SA. Gabriella Swartz (11) was die tweede prinses in die junior afdeling vir Mej. Stad Kaapstad.

Aneesa Ismail (16) het die koppe behoorlik laat draai toe sy as die eerste prinses in die Mej. Stad Kaapstad tiener, Mej. Ambassadeur en Mej. liefdadigheid gekroon is.

Die negejarige Chinique January is as Mej. WP se eerste prinses gekroon.

Ismail en January het ook outomaties as finaliste vir Mej. SA gekwalifiseer in die junior en tiener kategorieë.

Volgens Lorna Booysen, afrigter van die modelle, was hulle deelname ’n reusesukses, want die modelle het baie selfvertroue opgebou wat positief is vir toekomstige kompetisies.

“Hulle is nog jonk en kan ver in hulle loopbane kom,” meen Booysen.

Booysen sê dit is die eerste keer in die skool se bestaan van drie jaar dat die modelle hierdie prestasies behaal het.

“Ons is baie trots op die vyf modelle se sukses. Behalwe modelwerk, doen die studente ook baie gemeenskapswerk vir hul skole,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article