Kenneth Gordon se erg verminkte liggaam is Vrydagmiddag in die bosse oorkant Dassenberg-rylaan, Saxonsea vermoedelik deur kinders ontdek. Foto: Murphy Roberts


Hy is dalk met sy eie byl vermink en dit vermoedelik deur ’n vriend, het omstanders op die toneel gegis.

Die erg verminkte liggaam van Kenneth Gordon (40) is Vrydagmiddag in die bosse by Dassenberg-rylaan gevind.

Volgens omstanders op die toneel het die verdagte verder die bosse ingevlug nadat hy glo Tokkie, soos Gordon alombekend was, probeer opkap het.

“Hy het elke dag die bos vir ’n bestaan ingevaar en dit was soos ’n tweede huis vir hom,” vertel Moses Gordon (70), pa van die oorledene.

“Ek het Tokkie nog ’n uur voor sy liggaam gevind is by die huis gesien. Hy het gesê hy gaan net gou ’n ‘order’ vir ’n kliënt maak,” vertel Moses. Volgens Moses het die verdagte saam met Tokkie gestap en was die twee vriende. “Ek weet nie wat presies gebeur het nie, maar ek wil graag antwoorde hê,” sê Moses.

Tokkie se erg verminkte liggaam het op die moordwapen gelê en die moordenaar het Gordon se kop en arms probeer afkap, vertel die pa.

Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n 21-jarige man aangekeer en het gister in die hof op klag van moord verskyn. Van Wyk verduidelik die polisie se honde-eenheid en lugvleuel het ook aan die soektog na die verdagte deelgeneem nadat hy die bosse ingevlug het.

Inwoners van Saxonsea het Saterdag na die toneel opgeruk waar die Gordon se erg verminkte liggaam gevind is in die hoop om self met die verdagte af te reken.

Inwoners het vinnig vergader toe dit bekend word dat die 21-jarige verdagte uitkennings aan die polisie op die toneel gemaak het.

Gemoedere het hoog geloop en die polisie moes die verdagte met ’n ander roete van die toneel verwyder. Inwoners op die toneel het aan Weskus Nuus gesê die verdagte wil “nou mal speel en nou hoor hy glo stemme”.

Omstanders het ook beweer die verdagte het Donderdagaand sy sesjarige broertjie met ’n mes gesteek nadat hy glo deur ’n stem gesê het hy moet dit doen. Die verdagte het ook glo nóg ’n familielid gesteek.

Volgens ’n familielid van die verdagte het die jong man begin verander nadat hy dagga begin rook het.

“Hy het gereeld gekla van stemme wat hy hoor, maar niemand het hulle aan hom gesteur nie,” vertel dié familielid.

Inwoners sê egter hulle glo nie die stem-storie nie en die verdagte wil nou sy optrede regverdig. Inwoners is woedend, omdat Tokkie “niemand gepla het nie en het net sy hout gekap het”.

Volgens omstanders op die toneel het die verdagte Vrydag eers van sy bebloede klere ontslae geraak en het kaalbolyf op die toneel kom staan totdat iemand die vars krapmerke aan sy bolyf opgemerk het. Sommige het hom glo gekonfronteer oor die merke omdat hy laas saam met die oorledene gesien is.

Die verdagte het toe die hasepad in die bosse geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article