Ten spyte van vele beloftes die afgelope jare is Atlantis weer misgekyk vir die aanstel van bykomende polisiebeamptes.
Die jongste aankondiging kom van Bheki Cele, die minister van polisie, wat Woensdag (7 April) bevestig het 197 polisiebeamptes sal in die provinsie ontplooi word.
Nie een van dié beamptes sal egter in die Atlantis-streek werk nie.

Dit volg nadat Allen Winde, die Wes-Kaapse premier, in 2019 die duurste veiligheidsplan hier aangekondig en belowe het 50 000 wetstoepassers sal oor vyf jaar in die metropool ontplooi word.
Dit is nou twee jaar later, maar nie ’n enkele bykomende wetstoepasser is nog in Atlantis nie.
Volgens Cele sal die bykomende polisielede in Khayelitsha, Delft, Kraaifontein, Nyanga, Harare en Philippi-Oos ontplooi word.
Tydens die aankondig het Cele dit duidelik gestel die provinsie is ’n groot bron van kommer.
Hy het gesê 10 van die land se polisiekantore waar die meeste geslags- en bendegeweld aangemeld word, is in die provinsie – spesifiek in Kaapstad – geleë.
Intussen heers min hoop dat Atlantis by die nuwe LEAP (Law Enforcement Advancement Plan), wat deur die Kaapse metroraad en die provinsiale regering verskaf word, sal baat.
Volgens Albert Fritz, die provinsiale minister vir gemeenskapsveiligheid, is die eerste 500 LEAP-beamptes sedert verlede Oktober in Delft, Nyanga, Khayelitsha, Philippi, Bishop Lavis en Mitchells Plain ontplooi om die polisie se arm te versterk.
Fritz sê nuwe LEAP-beamptes sal hopelik later vanjaar ook in Guguletu en Mfuleni, Harare en Kraaifontein ontplooi word.
By navraag het Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapveiligheid, aan Weskus Nuus gesê Atlantis is vir eers nie onder die top-10-probleemgebiede in die Kaapse Metropool nie.
In hierdie stadium is die fokus van wetstoepassers en polisie dus om hul hulpbronne in dié top-tien gebiede te fokus ten spyte van die plaaslike gemeenskap se vraag vir beter veiligheidsdienste.





