Die Velocity-atletiekklub het ná suksesvolle veld- en baan-byeenkomste deur die Westelike Provinsie-atletiek-vereniging en Atletiek Suid-Afrika die afgelope drie weke, die voortou geneem en die eerste padwedloop vir seniors by die Silwerstroom-vakansieoord aangebied.
Weens die koronavirus-regulasies het Velocity nie baie atlete verwag nie, maar hy was verras om te sien dat atlete uit selfs Gauteng vir dié gewilde jaarlikse halfmarathon oor 21 km ingeskryf het.
Die wedloop is in 2020 weens die inperking afgelas, maar die organiseerders het vanjaar hard gewerk om die byeenkoms suksesvol te maak.
Volgens Mario Philander, die hooforganiseerder van die wedloop, is 180 inskrywings ontvang en was die Velocity-byeenkoms die eerste klubwedloop vir die jaar.
Volgens Philander is hulle baie tevrede met die opkoms van 150 atlete. Die vroeë koue voor die wedloop het nie die atlete afgeskrik nie, en hulle het mekaar uit die staanspoor opdraande gegee.
Volgens die wenner, Siboniso Somdaka van die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie (KSUT) se atletiekklub, het die eerste 7 km baie gelyk verloop, maar by die 12 km-merk het hy besluit om die pas te verhoog en is gevolg deur Duane Fortuin en Nkosinathi Mayo van onderskeidelik die Boxer- en die KSUT-atletiekklub.
Somdaka sê sy uithouvermoë in die laaste kilometers het hom die wenstreep in 1:06:34 laat oorsteek.
Fortuin was tweede in 1:07:40 en Mayo het die derde plek in 1:08:30 ingeneem.
In die vroueafdeling het Kelly Nel, die WP-kampioen, erge teenstand van haar klubmaat Alexa Townsend en Almé Jordaan van die Akademie-atletiekklub gehad.
“Alhoewel ons nog nie 100% fiks is nie, het ons steeds goeie tye behaal,” het Nel gesê.
Baie van die atlete was baie beïndruk met die reëlings en kom gewis volgende jaar terug, het hulle belowe.
Plaaslike atlete van Atlantis Harriers het ook die oog gevang. ’n Drietal spanmaats wat tot aan die einde by mekaar gebly het, was Leroy Afrikaner met ’n persoonlike beste tyd van 1:35:00, gevolg deur Jakobus Janaurie (53), wat die Comrades-ultramarathon al 13 keer aangedurf het en in 1:41:00 klaar was, en Matthew Speelman in 1:45:00.
Volgens Philander het alles baie goed verloop en sê veral verkeersbeamptes het verseker dat die atlete ’n veilige wedloop kon hê. Hy sê hulle is gewis aanstaande jaar terug.


