Carl Heinz oorhandig die Paul Harris-eerbewys aan Danny Pietersen.Foto: David Rossouw


Atlantis Rotary het sy merk in sy eerste bestaansjaar behoorlik gemaak.

Die organisasie, onder leiding van die voormalige skoolhoof Danny Pietersen, verskaf daaglikse sopkombuise met die nodige voorraad om ’n warm maaltyd te bedien.

Pietersen, die president van Rotary Atlantis, is Donderdag 3 Junie by die distrik se konferensie met die Paul Harris-prys vereer.

Volgens Terence Adams, die sekretaris, is dit die grootste prys waarmee ’n Rotariër-lid in sy klub, distrikskonferensie of selfs nasionaal vereer kan word.

Volgens Adams is die prys na Paul Harris, die stigter van Rotary Internasionaal, vernoem.

“Die prys beteken baie vir Atlantis aangesien dit baie deure vir die gemeenskap kan oopmaak, en nie baie klubs kan daarmee pronk dat hulle dit in hul eerste jaar kon vermag nie,” vertel Adams trots.

Volgens die beskeie Pietersen was dit ’n spanpoging van die hele klub. “Die doel was om ons gemeenskap by te staan en te help waar ons kan. Atlantis is een van 34 klubs in die distrik en strek so ver as Angola,” sê Pietersen.

Die wenner van die eerbewys moet ’n daadwerklike verskil in sy of haar gemeenskap kan maak, help werksgeleenthede skep, volhoubare projekte aanpak, toesien dat inwoners bemagtig word en vennootskappe ten bate van die gemeenskap skep, vertel Adams.

“Daarmee het Atlantis bo die res van die distrik uitgetroon,” vertel Adams.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article