Ná vyf ondersoekbeamptes, ’n private speurder en vertoë na verskillende ministers is Judy Kieswetter moedeloos en bevrees dat haar kind se saak ’n “cold case” kan word.
Kieswetter is die ma van Rubeena Booley, wat in 2015 in haar huis in Protea Park vermoor is.
“Ons wou net afsluiting hê, maar die kanse dat dit gaan gebeur, is dalk dat dit makliker sal wees om ’n naald in ’n hooimied te vind,” meen die ma.
Kieswetter het haar frustrasie met Weskus Nuus gedeel omdat sy as ma “reeds alles probeer het”.
“In my soeke na antwoorde het ek ook Afri-Forum genader met die hoop dat hulle dalk antwoorde kan kry,” vertel sy.
Kieswetter sê haar laaste poging was om die minister van polisie in die Uniegebou te gaan spreek, maar die idee is deur die Covid-inperking gekelder.
Sy glo die stelsel het haar kind gefaal. Sy meen mense het later begin om ’n “houding” in te neem wanneer sy navrae gedoen het oor die status van die ondersoek na Rubeena se moord.“Elke keer daag hier ’n nuwe ondersoekbeampte op wat ook maar net valse hoop gee, en na ’n rukkie is alles maar net weer stil.
“Die huur van ’n private speurder het my duisende uit die sak gejaag, maar dit het my nie gepla nie. Almal wat die saak ondersoek het of by die ondersoek betrokke was, het altyd net gesê meer mense was betrokke, maar kon dit nooit bewys nie.”
Brandon Lee Stevens is in April 2018 ná ’n pleitooreenkoms met die staat tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering tot moord.
Volgens Kieswetter is die veroordeelde ná slegs 10 maande op parool vrygelaat. “Dit laat meer vrae as antwoorde, wat ek seker nooit sal kry nie. Wat die meeste pla, is as hy net saamgesweer het, wie het dan die daad gepleeg? Dít is al wat ek wil weet.”


