Lede van die Survivors Haven-stigting betoog buite die hof waar die verdagte verskyn het.Foto: Verskaf


Die voormalige rugbyafrigter van Mamre wat hom op sosiale media as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou voorgedoen het, is Donderdag 29 Julie weer aangekeer nadat nog ’n klaer klagtes van verkragting teen hom aangemeld het.

Die nuutste slagoffer het haar stilte ná byna vier jaar gebreek en haar ouers op Vadersdag in Junie vertel wat gebeur het. Die destydse minderjarige meisie en haar familie was goed bevriend met die verdagte.

Dié 46-jarige verdagte het Vrydag 30 Julie in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die man, wat reeds op R10 000 borg vry is, het glo sy personae gebruik om sy slagoffers te kry om onder meer eksplisiete foto’s vir hom te stuur.

Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-organisasie, wat die families en slagoffers ondersteun, is hulle bewus van nog slagoffers wat nie na vore wil kom nie. “Ek wens dié jong meisies wil oopmaak, want dit kan net voordelig wees aangesien professionele berading beskikbaar is,” vertel Passenz.

Die verdagte het weer Woensdag 11 Augustus op die eerste aanklagte verskyn en sal Maandag 6 September vir die samevoeging van al die klagtes verskyn. Die verdagte is onder huisarres tot die saak afgehandel is. Hy mag sy woning net vir werk, om begrafnisse by te woon of in die geval van ’n mediese noodgeval verlaat.

In dié gevalle moet hy die ondersoekbeampte oor sy bewegings inlig aangesien die beampte gemagtig is om sy huis enige tyd van enige dag te besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article