Raadslid Fiona Abrahams lei die emosionele Adams-gesin terug in hul woonstel nadat sy hulle gehelp het om ’n dringende hofaansoek te kry om terug te trek. Foto: Murphy Roberts


’n Paartjie wat onlangs uit hul woonstel gesit is, meen hul verhuurder is ongevoelig en hardvogtig.

Die paartjie sê hulle is onwettig uit hul woonstel gesit en was vier dae sonder heenkome.

Moeneeb Adams (40) en sy vrou, Michelle (53), en ’n drie weke oue baba moes vinnig plan maak toe hulle uitgesit is.

Hulle het aan Weskus Nuus gesê hulle is deur vermoedelik onwettige immigrante in opdrag van die eienaars uitgesit.

Volgens Moeneeb het hul nagmerrie Donderdag 2 September begin toe ’n man hul deur oopgebreek en hul goed begin uitdra het.

Moeneeb vertel die mans het hulle aangesê hulle moet uit en hulle is sommer hardhandig verwyder.

“Ek het gevra waar is die bevel, maar die mans het hulle nie aan my gesteur nie en baie van ons eiendom beskadig.

“Ek het rondgebel en probeer uitvind wat aangaan, maar niemand het my oproepe beantwoord,” vertel die emosionele Moeneeb, wat met gesondheidsprobleme sukkel.

“My vrou en baba moes skelm by iemand in die gebou slaap terwyl ek buite in die koue en nat weer ons beskadigde eiendom moes beskerm,” vertel hy.

“Dit was baie traumaties vir ons, want die mans het gereeld kom kyk en gedreig dat ons die goed moet verwyder. Ons het ’n video van die onwettige uitsetting op Facebook gelaai en het gou baie ondersteuning van die gemeenskap gekry,” vertel die egpaar.

Fiona Abrahams, proporsionele raadslid, het die gesin Sondag besoek en gehelp om Maandag hul woonstel terug te kry. Volgens die egpaar het die verhuurders hulle Maandagoggend geskakel en hulle ’n drieslaapkamer­huis in Elsiesrivier aangebied.

“Dit was toe hulle hoor ons is besig [met regstappe], maar ons het die aanbod van die hand gewys,” vertel hulle.

Moeneeb sê Abrahams het “nie ’n oomblik stilgesit nie” en sy vrou en baba saam met haar geneem.

Abrahams sê sy het die paartjie Maandagoggend vir regshulp geneem en om ’n dringende hofbevel te kry.

Abrahams meen dit gebeur gereeld dat eiendomseienaars onwettig optree onder die huidige rampbestuurwet, wat duidelik is dat niemand uitgesit mag word nie.

Die hof het die bevel toegestaan dat die paartjie onmiddellik moet terugtrek en hulle is met die balju en Abrahams terug na hul woonstel.

Die emosionele paartjie vertel dat hulle die trauma niemand toewens nie en het almal bedank wat hulle ondersteun het en kon Abrahams nie genoeg bedank nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article