Terwyl inwoners van Atlantis gereeld kla dat die polisie niks doen aan bendegeweld en ander misdade nie, het die polisie baie uitdagings.
Só sê kol. Cyril Nkuna, stasiebevelvoerder by die Atlantis-polisie. “Dieselfde mense wat die polisie bel vir hulp, is dieselfde mense wat die polisie aanval en verhinder om hul werk te doen. Dit is ook dieselfde inwoners wat weet wie die oortreders is en hulle versteek ook bendelede se vuurwapens.”
Volgens Nkuna is die polisie Sondag 17 Oktober na Herrons Place ontbied waar ’n skietery plaasgevind het. Inwoners het toe egter die polisie met klippe bestook en sodoende die voertuig beskadig, terwyl ’n polisielid beseer is. Een verdagte is weens poging tot moord aangekeer.
Versterkings het vinnig opgedaag terwyl twee bendegroepe op mekaar losgebrand het. Nkuna sê wat hom egter pla, is toe die versterkings opdaag, word die polisielede as nikswerd uitgekryt en het inwoners op die lede begin vloek en skel.
Dit gebeur nie net in die Dura-woonstelle nie, maar byna oor die hele Atlantis waar woonstelle is vertel hy.
“Ek wil by inwoners pleit om nie die polisie te verhinder om hul werk te doen nie, want dit beïnvloed die diens wat die polisie aan die gemeenskap moet lewer,” sê Nkuna.
“Ek wil ’n beroep op elke inwoner van Atlantis doen om eerder ’n meer aktiewe rol te speel in die bekamping van misdaad sodat inwoners veiliger kan voel.”




