Munisipale werkers laai die klaar gestroopte koperkabels op nadat stropers sonder hul buit gevlug het. Foto: Murphy Roberts


Terwyl die land met beurtkrag sukkel, is kabeldiewe min gepla oor wat hul doen en late aan die gemeenskap doen.

Dit blyk diewe gebruik nou juis die gebrek aan elektrisiteit om hul kwade dade te pleeg nadat diewe Maandag (8 November) in die nywerheidsgebied betrap is toe werkers van ’n nabye fabriek onraad vermoed het.

Volgens Edgar Jantjies, Wilhelm van Wyk en Ashwill Arendse, was hulle besig om buite die fabriek skoon te maak toe hulle beweging in die nabygeleë bosse opmerk. Die drie mans het nadergestap en gesien ’n groep mans is besig met kabels en het alarm gemaak. Volgens een van die werkers het die skurke hulle met die dood gedreig as hulle iets sê. Een van die werkers sê die kabels was klaar gestroop en net reg om weggedra te word. Die werkers het alarm gemaak en die stropers het sonder hul buit laat spaander. Met Weskus Nuus se besoek aan die toneel was wetstoepassers besig om die kabels op ’n munisipale vragmotor te laai.

Volgens dié beamptes is dit moeilik om te sê aan wie die kabels behoort en kan eienaarskap eers ná die ondersoek bevestig word.

’n Munisipale werker op die toneel meen die diewe moes baie kwaad gewees het omdat dit topgehalte koper was wat hulle uitgespit het. Hy vermoed dit is meer as 300 kg. Die skoonmakers vertel hulle het aanvanklik gedink dit is mense wat in die nabye bosse woon en het ’n foto van die skurke en die bakkie waarin hulle gevlug het, geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article