Vier mans verskyn gou weer in die hof ná Chanté de Bruyn (22) se skietdood. Foto: Verskaf


Vier beskuldigdes, wat daarvan aangekla word dat hulle Saterdag 30 Oktober op ’n groep mense losgebrand en Chanté de Bruyn (22) doodgeskiet het, het Woensdag 24 November weer in die Atlantis-hof verskyn.

Die vier, onder wie ’n minderjarige, staar aanklagte van moord en poging tot moord in die gesig en het om borgtog aansoek gedoen.

Een van die mans was glo vroeër die aand by die partytjie uitgesit, wat vermoedelik die motief vir die voorval was.

“Die jongspan het vertel hy is daar weg, maar het glo gesê ‘julle gaan nou wys raak’. Die man het saam met nog drie ander jongens teruggekom en net begin skiet,” vertel De Bruyn se ouma, Theodora van Heerden (64). Sy het aan Weskus Nuus vertel van die laaste oomblikke dat sy haar kleinkind lewend gesien het: “Sy was opgemaak vir haar vriendin se kuier in Robinvale. Hulle het lank aan die geleentheid beplan en het die Saterdagmiddag opgewonde gereed gemaak.”

Van Heerden beskryf haar kleindogter as ’n omgee-mens. “My kleinkind het altyd omgegee vir ander en was die darling in haar vriendekring. Wat vir ons moeilik is om te aanvaar, is dat ons die kinders wat vir haar dood verantwoordelik is, ken.”

Chanté sou volgende jaar haar studies voort sit.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het Chanté op die toneel aan haar wonde beswyk en twee ander mense is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Munro het bevestig twee verdagtes is ná die voorval aangekeer, terwyl nog twee hulle later aan die polisie oorgegee het. Hulle moet Woensdag 8 Desember weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article