Proteus en Wesbank sekondêre skole takel mekaar al langer as twee dekades om die jaarlikse Tommy Engelbrecht-trofee.
Engelbrecht, ’n voormalige hoof aan al twee skole, het sy eweknie by Proteus in Proteapark, Atlantis, in rugby en netbal uitgedaag en ’n trofee geskenk as beloning vir die beste spanne op die dag. Dié trofee is later na hom vernoem.
Die jaarlikse derbywedstryde tussen dié twee skole, wat op ’n weg- en tuisbasis gespeel word, is weens die koronavirus in 2020 en 2021 afgestel, maar het Saterdag (27 Augustus) uiteindelik weer in Mamre plaasgevind. Proteus was vanjaar die gasheer op Mamre nadat Wesbank die laaste wedstryde in Malmesbury aangebied het.
Dié weeklange sportuitdaging, wat Maandag 22 Augustus begin het, is op die Mamre-sportveld afgesluit met klipharde en opwindende sport tussen dié twee skole se o.19- rugby- en netbalspanne.
Kirsty Sameuls, hoofdoel van Wesbank, het haar opponente soms in die lug laat gryp met skitterende korrelskote na die net en haar span met sprankelende netbal in die wedstryd gehou. Shanice Simon en Bernice van Wyk, skerpskutters van Proteus, het egter ander planne in die laaste kwart gehad en die doele ingeryg om Wesbank te uitoorlê en oortuigend 51-36 te klop.
In ’n klipharde rugbystryd het die vonke tussen Proteus en Wesbank behoorlik gespat. Wesbank het sy kleim vroeg afgesteek toe sy losskakel ’n strafskop in die 15de minuut oorgeklits het nadat Bentley Bezuidenhout van Proteus vroeg in die wedstryd met ’n strafskop misluk het.
Bezuidenhout het egter met sy tweede strafskop die bordjies verhang en gelyk gemaak. Puik inklimspel en stormlope deur die voorspelers het die skare op hul voete gehad wanneer die agterlyne op loop gegaan het. Proteus het sy kanse beter benut toe Lanay Joseph in die linkerkantse hoek vir die eerste drie van die wedstryd vir ’n voorsprong van 8-3 oorgeval het. Wesbank het egter vinnig teruggekap en net voor rustyd ’n onverdoelde drie gedruk om die telling op 8-8 te staan te bring.
Die besoekers het die telbord in die tweede helfte gejaag en aanvallende rugby gespeel, maar kon weens hanteerfoute net nie afrond nie. Proteus het egter munt geslaan uit Wesbank se foute en dit in punte omgeskep toe Leroy Hector sy span se tweede drie druk, wat deur Bezuidenhout verdoel is, wat die telling op 15-8 te staan gebring het.
Toe Devon Williams Proteus se derde drie vyf minute voor die eindfluitjie druk en Bentley dit verdoel, was die koeël deur die kerk vir Wesbank. “Die wil om te wen en die tuisveldvoordeel asook die skare agter ons het gewys waarom ons die Tommy Engelbrecht-trofeehouer die laaste drie jaar agtereenvolgens is,” het Peter Bezuidenhoudt, Proteus se afrigter, gesê.
Volgens Sherman Faro, afrigter van Wesbank Sekondêr, was dit ’n goeie en harde wedstryd. “Ons het heelwat foute begaan, wat soms verrassend was, en Proteus het daarop gekapitaliseer. Proteus was uitstekend en verdien om te wen,” het hy gesê.
Wesbank het in al die ander sportkodes koning gekraai, maar die grotes – rugby en netbal – ontglip hom steeds.
Die volgende derby in 2023 word in Malmesbury gespeel en Wesbank sal seker wil maak om die gesogte Tommy Engelbrecht-trofee op tuisbodem te laat agterbly.




